Vandag se sportnuus

Thabang Moroe. Foto: KSA/Twitter

Krieket:

  • Thabang Moroe, die geskorste uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), is gister toegang tot die nasionale krieketbeheerliggaam se kantoor in Johannesburg geweier.

Die omstrede krieketadministrateur is verlede Desember geskors terwyl daar bewerings van wangedrag teen hom ondersoek word. Dr. Jacques Faul is tydelik in sy plek aangestel.

Moroe het egter steeds sy maandelikse salaris van R350 000 ontvang.

Volgens SA Cricket Magazine het KSA versuim om hul ondersoek betyds af te handel en Moroe se skorsing het verlede Vrydag tot ’n einde gekom. Maar toe hy gister by die werk opdaag, wou sekuriteit hom nie deurlaat nie.

KSA het Maandag in ’n amptelike verklaring sy aandeelhouers gerusgestel dat die Moroe-saak met deursigtigheid afgehandel sal word.

Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (SACA), Andrew Breetzke, het egter gesê dat die Covid-19-pandemie as ’n gerieflike verskoning gebruik word, ten spyte van die feit dat KSA-amptenare veronderstel is om weer op volle stoom werk.

“Dit wil voorkom asof die bestuur doelbewus sloer om die saak af te handel. Dit is opmerklik dat daar nie soortgelyke vertragings met die ander dissiplinêre aangeleenthede was nie.”

Sedert Moroe se skorsing is Graeme Smith as KSA se eerste direkteur van krieket aangestel, terwyl Mark Boucher die Proteas se hoofafrigter is.

Onder Quinton de Kock se leiding het die Proteas met Australië in hul laaste reeks vóór die afsonderingstydperk afgereken.

Rugby:

  • Beauden Barrett sal sy amptelike buiging vir die Blues hierdie Sondag maak, wanneer die Auckland-span hul eerste wedstryd in die nuwe Aotearoa-reeks teen die Hurricanes op Edenpark afskop.

Blues: Beauden Barrett (heelagter), Mark Telea (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), TJ Faiane (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Otere Black (losskakel), Sam Nock (skrumskakel), Hoskins Sotutu (agtsteman), Blake Gibson (flank), Tom Robinson (flank), Josh Goodhue (slot), Patrick Tuipulotu (slot en kaptein), Ofa Tu’ungafasi (stut), James Parsons (haker) en Alex Hodgman (stut). Plaasvervangers: Kurt Eklund, Ezekiel Lindenmuth, Marcel Renata, Gerard Cowley-Tuioti, Dalton Papalii, Finlay Christie, Harry Plummer en Matt Duffie.

Die wedstryd word Sondag om 05:35 op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

“maandelikse salaris van R350 000”
daar is baie mense wat die bedrag nie eers in ‘n jaar sien nie, maar die armes moet maar kripeer, honger ly, koud kry, ens., belaglik

Alexander ·

Moroe behoort sonder salaris geskors te word. Veral as mens na die omvang van die korrupsie kyk waarmee hy doenig was. Nou word hy eintlik vir korrupsie beloon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.