Vandag se sportnuus

Ben Godfrey. Foto: Twitter.

Motorsport:

  • Die 25-jarige Britse Superbike-ster Ben Godfrey is dood ná ’n noodlottige ongeluk gedurende ’n No Limit Trackdays-byeenkoms op die Donington Park-renbaan in Leicestershire.

Volgens Britse mediaberigte het Godfrey teen ’n ander deelnemer gebots en van sy motorfiets geval. Hy het ernstige beserings opgedoen en ten spyte van onmiddellike mediese hulp, het hy kort ná die voorval gesterf.

Hy sou later vanjaar die BGR-span by die Ducati TiOptions-beker op die Silverstone-renbaan verteenwoordig het. Huldeblyke stroom sedertdien in.

“Ben was ’n fantastiese jong man – hy was altyd glimlaggend terwyl hy tyd vir almal gemaak het. Hy was baie opgewonde oor die begin van die seisoen en was by talle byeenkomste in aksie gewees,” het die No Limit-wedrendirekteur, Mark Neate, gesê.

Rugby:

  • Die tweede ronde van die Nieu-Seelandse Aotearoa-reeks is hierdie naweek afgehandel en die Crusaders het hul toernooi op ’n wennoot begin toe hulle 39 – 25 met die Hurricanes afgereken het.

Die telling was in ’n stadium 25 elk, maar die ’Canes se Suid-Afrikaanse vleuel, Kobus van Wyk, het per ongeluk die bal reg in die hande van die Crusaders se Richie Mo’unga gegooi. Die Crusaders het daarna met die wedstryd weggehardloop.

In die ander wedstryd het Beauden Barrett se Blues Warren Gatland se Chiefs met 24 – 12 geklop.

In die komende naweek se kragmetings speel die Blues teen die Highlanders op Edenpark, terwyl die Crusaders gasheer vir die Chiefs speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.