Vandag se sportnuus

CrossFit se nuwe eienaar, Eric Roza. Foto: Twitter.

CrossFit:

  • Die storm wat in die CrossFit-wêreld losgebars het ná die stigter Greg Glassman se Twitter-inskrywing en ander opmerkings – hy het onder meer glo gevra waarom daar oor George Floyd se dood getreur moet word – het wyer uitgekring.

Sedertdien het verskeie atlete, onder wie Katrin Davidsdottir en Noah Ohlsen, en geaffilieerde gimnasiums hul ontevredenheid met Glassman uitgespreek.

CrossFit het gister in ’n amptelike verklaring aangekondig dat Glassman sy maatskappy aan Eric Roza verkoop het. As sakeonderneming is CrossFit na raming $4 miljard werd, met 13 000 gimnasiums regoor die wêreld.

Roza – ’n suksesvolle sakeman en eienaar van ’n CrossFit-gimnasium, het gesê dat hy sal poog om vertroue in die handelsmerk te herstel.

“Ek het ’n eenvoudige benadering: Rassistiese en seksistiese gedrag sal nie in CrossFit geduld word nie,” het hy gesê.

Op sy beurt het Glassman gesê dat die wêreld verander het, maar dat die gesondheidsvoordele van CrossFit onveranderd is.

“Dit is tyd vir die stigter om almal vaarwel te roep en ander kreatiewe uitlaatkleppe te soek,” het hy gesê.

Rugby:

  • Volgens statistiese ontleding het 857 miljoen mense die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gevolg.

Daarteenoor het 678 miljoen kykers die aksie van die 2015-toernooi in Engeland op die televisie gevolg.

  • Die bal is glo aan die rol vir die All Blacks om ’n vertoonwedstryd teen Australië se liga-rugbyspan, die Kangaroos, te speel.

Mark Robinson, uitvoerende hoof van rugby in Nieu-Seeland, en Mal Meninga, afrigter van die Kangaroos, het bevestig dat samesprekings plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae