Vandag se sportnuus

Beauden Barrett van die Blues (middel) tydens die Aotearoa-wedstryd teen die Hurricanes (14 Junie 2020) (Foto: Dean Purcell/New Zealand Herald via AP)

Rugby:

  • Die Franse klub Beziers vry glo hard na die dienste van Nieu-Seeland se Beauden Barrett en Ma’a Nonu.

Volgens mediaberigte is die Walliese losskakel Dan Biggar ook in hul visier.

Skatryk beleggers in die Verenigde Arabiese Emirate is bereid om die klub se skuld – wat na raming byna R100 miljoen is – te delg in ’n poging om Beziers weer een van die top-spanne in Frankryk te maak.

  • In die afgelope naweek se Aotearoa-wedstryde het die einste Barrett se Blues-span hul wenveldtog voortgesit toe hulle die Highlanders met 27 – 24 in Auckland geklop het.

Dan het die Crusaders ook hul tweede agtereenvolgende wedstryd van die reeks gewen toe hulle 18 – 13 met Warren Gatland se Chiefs klaargespeel het.

In die komende naweek se wedstryde speel die Highlanders teen die Crusaders, terwyl Chiefs teen die Hurricanes sal kragte meet.

Formule 1:

  • Meer as drie maande nadat die Australiese Grand Prix weens die wêreldwye Covid-19-pandemie afgelas is, sal motorsport-enjins weer die naweek in Oostenryk brul.

Lewis Hamilton, Charles Leclerc en Kie. sal agter geslote deure op die Spielberg-renbaan weer hul vaardighede uitstal.

Boonop sal Hamilton vanjaar poog om die legendariese Michael Schumacher se rekord van sewe bestuurdertitels te ewenaar.

Krieket:

  • Suid-Afrika se Dale Steyn het Saterdag sy 37ste verjaardag gevier.

Die Phalaborwa-sneltrein, soos wat hy onder krieketondersteuners bekend staan, hou die rekord vir die meeste toetspaaltjies in Protea-geskiedenis.

Hy het in 93 toetse 439 paaltjies laat spat en word deur baie kenners as een van die beste snelboulers van alle tye beskou.

  • Ses van die tien Pakistanse krieketspelers wat vroeër positief vir Covid-19 getoets is, het negatiewe uitslae ná hul tweede toets gekry.

Volgens Wasim Khan, uitvoerende hoof van die Pakistanse krieketraad, het Mohammad Hafeez, Wahab Riaz, Fakhar Zaman, Shadab Khan, Mohammad Rizwan en Mohammad Hasnain almal negatief getoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.