Vandag se sportnuus

Quinton de Kock (Foto: Cricket South Africa, Facebook)

Krieket:

  • Krieket Suid-Afrika (KSA) het vanoggend in ’n verklaring gesê dat die 3TeamCricket-inisiatief nou op 18 Julie (steeds op SuperSportpark) sal plaasvind.

Die wedstryd sou aanvanklik op 27 Junie in Centurion gespeel word, maar die regering het ’n stokkie daarvoor gesteek. Volgens Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het KSA nie die nodige toestemming gehad om die wedstryd aan te bied nie.

Die minister het egter op 26 Junie toestemming gegee dat krieketspelers weer mag oefen en dat wedstryde aangebied mag word. ’n Hoëprestasie-oefengroep, wat spelers soos Janneman Malan, Faf du Plessis en Anrich Nortjé insluit, het reeds by verskillende franchise-venues weer aan hul vaardighede begin slyp.

Van 3TeamCricket se innoverende idees is dat ’n wedstryd uit 36 boulbeurte bestaan en dat elke span vir 12 boulbeurte kolf.

Die wedstryd sal om 11:00 begin en sal regstreeks op SuperSport2 uitgesaai word.

Die verskillende spanne:

Eagles: AB de Villiers (kaptein), Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Andile Phehlukwayo, Sisanda Magala, Junior Dala en Lungi Ngidi.

Kites: Quinton de Kock (kaptein), Temba Bavuma, Jon-Jon Smuts, David Miller, Dwaine Pretorius, Lutho Sipamla, Beuran Hendricks en Anrich Nortjé.

Kingfishers: Kagiso Rabada (kaptein), Reeza Hendricks, Janneman Malan, Faf du Plessis, Heinrich Klaasen, Chris Morris, Glenton Stuurman en Tabraiz Shamsi.

  • Intussen sal die veglustige Ben Stokes Engeland in die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in Southampton aanvoer.

Engeland se gereelde kaptein, Joe Root, sal die wedstryd weens die geboorte van sy kind misloop.

Rugby:

  • Die Springbokvleuel Aphiwe Dyantyi se tugverhoor vir die beweerde misbruik vir verbode middels sal binne die volgende twee maande afgehandel word.

Die 25-jarige speler word deur ’n skorsing van vier jaar in die gesig gestaar indien hy skuldig bevind sou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.