Vandag se sportnuus

Shannon Gabriel het vyf paaltjies in Engeland se tweede beurt geneem. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Die Wes-Indiese Eilande het gister in Southampton geskiedenis gemaak toe hulle Engeland met vier paaltjies geklop het. Sodoende het die Eilandmanne die eerste toetswedstryd van die Covid-19-era gewen.

Die besoekers moes 200 lopies vir ’n oorwinning jaag en Jermaine Blackwood se beurt van 95 het die wa deur die drif getrek.

Hoewel Jofra Archer (3/45) gesorg het dat hulle vroeg in hul beurt op 27/3 gesteier het, het Blackwood en Roston Chase (37) die Windies se beurt weer op koers gekry.

Shannon Gabriel, wat met ’n boulontleding van 9/137 in die wedstryd spog, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Die volgende wedstryd in die reeks begin Donderdag in Manchester.

Rugby:

  • In die Nieu-Seelandse Aotearoa-reeks het ’n tikkie Will Jordan-toorkuns die wedstryd vir die Crusaders teen die Blues gewen.

Die Aucklandse span het tot die 62ste minuut van die kragmeting met 15 – 9 voorgeloop, maar Jordan se drie het die weg vir ’n Crusaders-oorwinning gebaan.

Hulle het uiteindelik met 26 – 15 gewen.

Puntemakers:

Crusaders: Drieë: Mitch Drummond en Will Jordan. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2). Strafskoppe: Richie Mo’unga (4).

Blues: Drieë: Mark Telea en Rieko Ioane. Doelskoppe: Otere Black (2). Strafskop: Otere Black.

  • Die voormalige Stormers-vleuel Kobus van Wyk het nóg ’n drie vir die Hurricanes gedruk in hul goeie oorwinning van 17 – 11 oor die Highlanders in Wellington.

Puntemakers:

Hurricanes: Drieë: TJ Perenara, Kobus van Wyk en Devon Flanders. Doelskop: Jordie Barrett.

Highlanders: Drie: Aaron Smith. Strafskoppe: Mitchell Hunt (2).

Atletiek:

  • Die voormalige 100 m-wêreldrekordhouer Asafa Powell het vyfde in sy eerste 100 m-wedloop van 2020 geëindig.

Nesta Carter het in Kingston die wedloop met sy tyd van 10,38 s gewen, met Powell wat met ’n 10,51 s tevrede moes wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.