Vandag se sportnuus

Chris Woakes vier een van sy drie paaltjies. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Engeland het ’n voorsprong van 219 lopies op die laaste dag van die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande in Manchester.

’n Indrukwekkende vennootskap in die eerste beurt tussen Dom Sibley (120) en ’n briljante Ben Stokes (176) het gesorg dat die tuisspan op 469/9 in hul eerste beurt verklaar het.

Hulle het daarna – met Stuart Broad en Chris Woakes voor in die koor – die besoekers tot 287 beperk. Maar die beurt was ook nie sonder drama nie.

Nadat Jofra Archer vroeër uit die span weggelaat is omdat hy die Engelse kamp se Covid-19-regulasies verontagsaam het deur sy huis te besoek, het Sibley per ongeluk spoeg gebruik om die bal blink te vryf.

Michael Gough, een van die skeidsregters, het onmiddellik die wedstrydbal met reiniger skoongemaak. ’n Veldwerkspan kan met vyf lopies beboet word as hulle spoeg gebruik om swaai te bewerkstellig.

Rugby:

  • In Aotearoa-aksie het Warren Gatland se Chiefs hul vyfde agtereenvolgende nederlaag van die reeks gely, toe die Highlanders hulle in die doodsnikke van hul kragmeting in Waikato met 33 – 31 geklop het.

Puntemakers:

Highlanders: Drieë: Marino Mikaele-Tu’u, Mitch Hunt, Aaron Smith, Jona Nareki en Patelesio Tomkinson. Doelskoppe: Hunt (4).

Chiefs: Drieë: Lachlan Boshier, Anton Lienert-Brown en Bradley Slater (2). Doelskoppe: Damian McKenzie (4). Strafskop: McKenzie.

  • In nog ’n rillerstryd het die Hurricanes die Blues met 29 – 27 op die Sky-stadion gewen.

Die ’Canes se Jordie Barrett het die wendoelskop komkommerkoel tussendeur die pale gejaag.

Puntemakers:

Hurricanes: Drieë: Ngani Laumape, Reed Prinsep, Dane Coles en Asafo Aumua. Doelskoppe: Jordie Barrett (3). Strafskop: Barrett.

Blues: Drieë: Beauden Barrett, Dalton Papalii, Akira Ioane en Kurt Eklund. Doelskoppe: Otere Black en Barrett. Strafskop: Black.

Sokker:

  • In sokkernuus het Chelsea vir Manchester United met 3 – 1 in die halfeindstryd van die FA-beker geklop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae