Vandag se sportnuus

Yoshiro Mori, die president van die Olimpiese organiseringskomitee. Foto: ANA.

Olimpiese Spele:

  • Yoshiro Mori, president van Tokio se Olimpiese organiseringskomitee, het in ’n onderhoud gesê dat hy nie ten gunste van die idee is om die Spele agter geslote deure aan te bied nie.

Die internasionale skouspel sou hierdie Vrydag begin het, maar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is dit tot volgende jaar uitgestel.

Sommige kenners, waaronder Suid-Afrika se voormalige hekkieskampioen LJ van Zyl, is egter van mening dat sportgeesdriftiges gelukkig sal wees as die Spele wel op die beplande nuwe datum sal kan voortgaan.

“Atlete sal moet vooraf kwalifiseer en internasionale blootstelling kry en ek weet nie of die wêreld al gereed sal wees nie,” het Van Zyl vroeër aan Maroela Media gesê.

Intussen het die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Thomas Bach, voorgestel dat toeskouergetalle verminder moet word in ’n poging om Covid-19 te bestry.

Mori wil egter só ’n scenario vermy en daar word na moontlike alternatiewe oplossings gekyk.

Rugby:

  • Die Rooi Bulle is weliswaar die naam van HTS Middelburg se eerste rugbyspan, maar as die voormalige Bokbreier Nick Mallett sy sin kry, sal dit ’n goeie naam vir ’n gekombineerde Gauteng-span wees.

“Ek verstaan dat Gauteng ’n sterk streek is en hulle kan maklik twee spanne – die Bulls en die Lions – akkommodeer. Maar dit is ’n klein area. ʼn Mens kan sekerlik die spelers in een franchise saamsmelt en die oorblywendes na ander unies stuur om hulle te versterk,” het Mallett gesê.

  • Intussen het SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, gesê dit is onwaarskynlik dat die Springbokke enige tuistoetse vanjaar sal speel.

Volgens Roux sal die wêreldkampioenspan moontlik wedstryde in óf Nieu-Seeland óf in Europa speel.

Krieket:

  • Ná sy uitstekende vertoning in die Manchester-toets teen die Wes-Indiese Eilande beklee Engeland se Ben Stokes tans die derde plek op die Internasionale Krieketraad se kolfranglys. Hy is ook die voorste veelsydige speler in wêreldkrieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.