Vandag se sportnuus

Die Springbokke ná ’n wedstryd teen die All Blacks in Wellington. (Foto: Twitter via @Springboks)

Rugby:

  • Volgens Wêreldrugby sal die Rugbykampioenskapreeks vanjaar gespeel word.

Die toernooi, wat oor ses weke gespeel sal word, kan van 7 November tot 12 Desember in Nieu-Seeland plaasvind.

Daar word ook daarna gekyk om die Sesnasiesreeks teen die einde van Oktober te voltooi.

  • Intussen is die kanse goed dat die Blues se veteraan-losskakel Dan Carter weer op die kantlyn vir die naweek se kragmeting teen die Chiefs sal wees.

Die 38-jarige Carter sou die afgelope naweek sy Blues-buiging teen die Hurricanes gemaak het, maar hy het gedurende oefening sy kuitspier beseer.

Die All Blacks-legende het nie gister saam met die res van die span geoefen nie.

  • Dan sal Ben Lam sy 50ste en laaste wedstryd vir die Hurricanes teen die Crusaders speel.

Hy het ’n kontrak met die Franse klub Bordeaux onderteken.

Sokker:

  • Liverpool is die Engelse Premierliga-wenners nadat hulle gisteraand vir Chelsea in ’n doelefees met 5 – 3 op Anfield getroef het.

Jurgen Klopp se span was hierdie seisoen onoorwonne op hul tuisveld.

Krieket:

  • In krieketnuus het Engeland se James Anderson gesê dat Ben Stokes die beste veelsydige speler is saam met wie hy ooit gespeel het.

Volgens Anderson is Stokes beter as Andrew Flintoff, terwyl hy stewig op pad is om sir Ian Botham as Engeland se beste veelsydige speler verby te steek.

Stokes het in die afgelope toets teen die Wes-Indiese Eilande ’n uithalervertoning gelewer: Hy het 176 en 78 in sy twee kolfbeurte geslaan, terwyl hy ook drie spotgoedkoop paaltjies geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.