Vandag se sportnuus

Rugby:

  • Die legendariese All Blacks-slot, Andy Haden, is in die ouderdom van 69 oorlede ná ’n stryd van amper 20 jaar teen kanker. Lees Pieter Kruger se artikel binnekort op Maroela Media.

Engeland se Stuart Broad. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Die Engelsman Stuart Broad het gister op Old Trafford die sewende bouler – saam met bobaas-spelers soos Muttiah Muralitharan, Shane Warne, Glenn McGrath, James Anderson, Anil Kumble en James Anderson – geword om 500 toetspaaltjies te neem.

Die 34-jarige Broad het ’n uitstekende toets gehad, asook ’n deurslaggewende rol in Engeland se oorwinning van 269 lopies teen die Wes-Indiese Eilande gespeel.

Hy het eerstens met die kolf uitgeblink om 62 vinnige lopies van slegs 45 aflewerings te moker, waarna hy die Windies-kolwers laat bontstaan het.

Hy het in hul eerste beurt 6/31 geneem en in die tweede beurt 4/36 om met ’n spogboulontleding  van 10/67 in die wedstryd te spog.

Dit het Broad 140 toetse geneem om die mylpaal te bereik en hy neem sy paaltjies teen ’n gemiddeld van 27,98 en ’n treftempo van 56,7.

Hy het kolwers soos David Warner en AB de Villiers onderskeidelik 12 en tien keer in sy loopbaan uitgeknikker.

Maar ondanks sy heldedade van die afgelope toets, sal sommige krieketkenners waarskynlik sukkel om Broad in dieselfde kategorie as boulers soos Warne, McGrath en Muralitharan se kaliber te plaas.

En hoewel beserings in Dale Steyn se pad gestaan het om 500 paaltjies te neem, het hy sy 439 paaltjies in 93 toetse teen ’n beter gemiddeld (22,9) en treftempo (42,3) as Broad geneem.

  • Intussen sal Imran Tahir die enigste Suid-Afrikaner wees wat by vanjaar se Caribbean Premier League (CPL) in aksie sal wees.

Ander spelers soos Rassie van der Dussen, Tabraiz Shamsi, Anrich Nortjé en Rilee Rossouw kon nie hul reisplanne te midde van die Covid-19-pandemie bevestig nie.

Boks:

  • Mike Tyson sal op 12 September weer in die bokskryt klim.

Maar vergeet van name soos Sonny Bill Williams of Lennox Lewis, die 54-jarige het op Roy Jones besluit om sy terugkeer te vier.

Die 51-jarige Jones – wat vier keer ’n wêreldkampioen was – het amptelik in 2018 uitgetree.

Die twee sal na verwagting met groter handskoene boks, terwyl hulle ook beskermende drag kan dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adam Adriaan ·

Mooi so Engeland!! Hulle gaan seker hulle verloor deur BLM te probeer verdoesel. Hulle het mos begin met die knie buig voor die toets.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.