Vandag se sportnuus

Dr. Jacques Faul. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Jacques Faul gaan glo op 15 September die tuig neerlê as Krieket Suid-Afrika (KSA) se waarnemende uitvoerende hoof.

Volgens ’n berig wat in The Citizen verskyn het, het Faul self nie sy bedanking bevestig nie. ’n KSA-bron het egter aan die publikasie bevestig dat hy die raad per e-pos in kennis gestel het.

Hy is verlede Desember tydelik in die pos aangestel nadat Thabang Moroe wees beweerde wanadministrasie geskors is. Faul se kontrak is in Junie met ’n bykomende drie maande verleng.

Die voormalige Titans-baas blyk ’n man vir ’n krisissituasie te wees. In 2012 is hy ook as KSA se tydelike uitvoerende hoof aangestel nadat Gerald Majola die trekpas oor die IPL-bonusskandaal gekry het.

Onder Faul se leierskap het die aanstellings van onder andere Graeme Smith, Mark Boucher, Charl Langeveldt en Jacques Kallis momentum gekry, terwyl die Proteas ook in ’n eendagreeks teen Australië skoonskip gemaak het. Hy het ook vir meer bestendigheid gesorg – ’n eienskap wat borge beslis waardeer.

Die rit tot uiteindelike sukses op die krieketveld is egter nie sonder stampe en stote nie: KSA se toewyding jeens transformasie is deur Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, bevraagteken. Veral die aanstelling van die wit Faul en Kie. in bestuursposisies is deur Mthethwa gekritiseer.

Faul het ook gesê dat KSA die Black Lives Matter-beweging steun en die 3TeamCricket-wedstryd op SuperSportpark onder meer ’n vertoonvenster was vir die beweging en ’n veldtog teen geslagsgebaseerde geweld.

“Black Lives Matter. Dit is so eenvoudig soos dit. As ’n nasionale sportbeheerliggaam wat bevoorreg is om meer as 56 miljoen Suid-Afrikaners te verteenwoordig, is dit belangrik dat ons die reuseplatform gebruik om op te voed en te luister; veral wanneer dit by diskriminasie-onderwerpe kom,” het hy destyds in die media gesê.

Volgens die berig is Faul glo ontevrede met die samewerking van sommige raadslede – veral wat finansiële sake betref.

Rugby:

  • In Aotearoa-aksie is die sukkelende Chiefs die naweek in aksie teen die Crusaders (Saterdag om 09:05), terwyl die Highlanders en die Blues in die tweede wedstryd (Sondag om 05:35) sal kragte meet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakes ·

KSA sal n grap word nes alle ander sportsoorte in SA want politiek oorheers.

Yolandie ·

Faul ek dink jy bly onder ‘n klip. Miskien moes jy dalk eerder die tyd gevat het om te gaan lees waarvoor BLM as organisasie regtig staan, voordat julle almal op die wa gespring het. En gaan kyk bietjie op sosiale media nou…….baie sport truie en video’s wat die rondte doen wat hulle ondersteuning vir julle eindig. Ek ingesluit!!! Jy is duidelik nie in voeling met die bree SA publiek nie.

Anoniem ·

Dit is nou die ideale geleentheid vir Suid-Afrikaners om ALLE sport in Suid-Afrika te boikot. Dit is ‘n ope vraag of hulle nog BLM gaan ondersteun wanneer daar na die inperking geen toeskouers meer by pawiljoene opdaag om na sport te kyk.

JBN ·

Faul onthou net voor jy die pad vat om die knie te buig vir jou kwotaspan en jou BLM maatjies. Ek het my protea trui met smaak opgesny en sal van nou af enige ander span ondersteun wat teen julle chokers speel.

Kokerboom ·

Wees asb eerlik Dr Faul. U kan ook nie die politiekery van persone van kleur hanteer ten spyte daarvan dat u as geleerde person die BLM ondersteun (u het my respek verloor). Moenie altyd doekies omdraai en kruip by diegene wat jou velkleur nie kan verdra. Maak oop jou oë..toe die rassiste aan bewind was het hul alles opgevoeter. KSA het my vurige steun verloor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.