Vandag se sportnuus

rugbypale

Argieffoto.

Rugby:

  • Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, het aan Suid-Afrikaanse rugbyowerhede die groen lig gegee om weer wedstryde aan te bied.

Die wedstryde sal agter geslote deure gespeel moet word, terwyl die aantal mense in die stadion ook beperk sal word.

Die Bulls, Stormers, Lions, Sharks, Cheetahs en Pumas het onder meer reeds ’n paar weke gelede met niekontakoefensessies begin.

Die wedstrydnuus is deur Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, verwelkom.

“Sedert die begin van die pandemie het ons hard agter die skerms gewerk om te verseker dat die spelers weer tot die speelveld kan terugkeer. Ons het die regering op die hoogte van ons planne gehou,” het Roux gesê.

“Ons is dankbaar vir die geleentheid om na die volgende vlak van ons beplanning te beweeg en sal die nodige inligting verskaf – waaronder die wedstrydvenues – om toe te sien dat dinge so glad moontlik verloop.”

Volgens Roux word daar beoog om die eerste wedstryde in die middel van September te speel.

Krieket:

  • Pakistan is met die hef in die hand ná die tweede dag van die eerste toets teen Engeland op Old Trafford.

Die besoekers het 326 in hul eerste beurt aangeteken, te danke aan Shan Masood se spogbeurt van 156.

Daarna het hul boulers gesorg dat Engeland op 12/3 gesteier het – die gevaarman Ben Stokes is ook terug in die kleedkamer nadat hy deur Mohammad Abbas vir ’n nulletjie skoongeboul is.

Ollie Pope (46) en Jos Buttler (15) het egter die kastaiings uit die vuur probeer krap en teen uitskeityd het Engeland 92/4 op die telbord gehad.

Gholf:

  • In gholfnuus loop Jason Day en Brendon Todd voor ná die eerste dag se spel op TPC Harding Park in San Francisco.

Die twee het ’n ronde van 65 gespeel om die dag op vyf onder die baansyfer af te sluit.

Shaun Norris lei die Suid-Afrikaanse aanslag met sy ronde van 69.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.