Vandag se sportnuus

loftus6

Loftus Versfeld. Argieffoto.

Rugby:

  • Die Bulls het op hul amptelike Twitter-rekening bekend gemaak dat die span se nuwe kaptein vanmiddag om 13:00 aangekondig sal word.

Met Burger Odendaal wat die trek oor die Jukskei na die Lions gemaak het en met Handré Pollard in Frankryk, is die Pretorianers tans leierloos.

Hulle het egter ’n sterk groep spelers met Arno Botha, Duane Vermeulen en Trevor Nyakane wat met gemak die kapteinleisels kan oorneem.

  • Intussen kan Springbokke soos Damian de Allende en RG Snyman hul buigings vir Munster teen Leinster op 22 Augustus maak.

Hoewel De Allende met ’n liesbesering gesukkel het, het die voormalige Stormers-agterspeler weer saam met die span begin oefen.

  • Volgens mediaberigte het amper die helfte van Stade Francais se spelers positief vir Covid-19 getoets.

Rugby Pass berig dat 17 van die 37 spanlede die virus opgedoen het. Die span het onlangs ’n oefenkamp in Nice bygewoon.

Die klub se Thomas Lombard het egter gesê dat nie so baie spelers positief getoets het nie.

In ’n verklaring het die klub aangedui dat sommige van die spelers ná die weeklikse toetse positief getoets het. Die spelers het egter geen simptome getoon nie en is in kwarantyn geplaas.

Krieket:

  • Ben Stokes sal weens persoonlike redes die res van die toetsreeks teen Pakistan misloop.

Die 29-jarige veelsydige ster sal na Nieu-Seeland terugkeer om sy familie te besoek. Volgens mediaberigte het sy pa tydens Engeland se toer na Suid-Afrika met sy gesondheid gesukkel.

Sokker:

  • Manchester United is in die halfeindstryd van die Europa-liga nadat hulle FC Copenhagen met 1 – 0 in die kwarteindstryd geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.