Vandag se sportnuus

Dr. Jacques Faul. Argieffoto.

Krieket:

Kort op die hakke van Chris Nenzani se bedanking het dr. Jacques Faul ook aangedui dat hy nie meer as die tydelike uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA) sal dien nie.

Faul is in Desember 2019 in sy tydelike hoedanigheid aangestel nadat Thabang Moroe verlede jaar geskors is.

Die skorsing was onmiddellik van krag, maar hy het steeds sy volle salaris ontvang terwyl die bewerings van wangedrag teen hom ondersoek word.

Volgens mediaberigte kan Moroe weer binnekort met KSA vergader. Indien hy afgedank word, is daar ’n moontlikheid dat hy die beleërde krieketbeheerliggaam hof toe kan sleep.

In die Faul-era het kriekethardebaarde soos Graeme Smith (direkteur van krieket) en Mark Boucher (hoofafrigter) se aanstellings momentum gekry, terwyl die Proteas ook hul eerste reeks in ’n hele ruk gewen het.

Quinton de Kock se span het in Maart vir Australië met 3–0 getroef en jong diamante soos Kyle Verreynne en Janneman Malan is ontgin.

Maar dinge was definitief nie net maanskyn en rose nie.

KSA is onder meer deur min. Nathi Mthethwa oor die vingers getik omdat die beheerliggaam kwansuis nie genoeg op bestuursvlak getransformeer is nie. Dan het die BLM-beweging en verskeie oudspelers se stories van beweerde rassisme net vir olie op die vuur gesorg.

Volgens KSA sal ʼn nuwe president en voorsitter van die raad tydens die jaarlikse algemene vergadering op 5 September aangestel word. Intussen sal Beresford Williams tot dan as president waarneem.

Dr. Faul is ook in ’n verklaring vir sy toewyding en leierskap bedank.

’n Permanente uitvoerende hoof kan eers aangestel word as die Moroe-aangeleentheid afgehandel is.

  • Intussen sal die blitsige Anrich Nortjé vir Chris Woakes in die Delhi Capitals se span vir die komende Indiese Premierliga vervang.

Vanjaar se IPL vind in die Verenigde Arabiese Emirate plaas.

Rugby:

  • Volgens Munster het hul akademiespeler wat positief vir Covid-19 getoets het min simptome van die koronavirus.

Die span het in ’n verklaring gesê dat hulle weer vir die naweek se wedstryd teen Leinster sal voorberei.

Damian de Allende en RG Snyman is deel van die Ierse groep.

Al die spanmaats wat in aanraking met die betrokke speler was, het negatief vir die koronavirus getoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tweeling ·

As julle geen politiek van die begin af toegelaat het nie dan was alles in pluis gewees.

Kokerboom ·

Nee wat, hoe moeilik dit ook al was het ek krieket in SA totaal afgeskryf weens BLM, die rassistiese minister Mthetwa en optrede van eens ge eerde senior spelers. Jong mense loop speel oorsee. Die anc slag in hul vernietiging van alles wat van waarde is vir Blanke in die land!!!

Andre ·

Ek sou ook gedoen het wat Faul gedoen het want hoe gemaklik kan jy wees in ‘n omgewing waar jy nie welkom is nie. Sou graag geweet het wat hou Smith en Boucher nog daar want hulle omstandighede is presies dieselfde

Tyd dat Gibbs ( soms op witstoel en dan swartstoel) die leisels oorneem en wys hoe hy en sy trawante die dinge wil hé gebeur. Tyd dat verantwoordelikhede geneem word en nie net op die kantlyn sit en als kritiseer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.