Vandag se sportnuus

Usain Bolt. Argieffoto.

Atletiek:

  • Die beste naelloper van alle tye, Jamaika se Usain Bolt, het volgens mediaberigte positief vir Covid-19 getoets.

Die Olimpiese ster het onlangs sy 34ste verjaardag met ’n maskerlose partytjie gevier en hy het kort daarna ’n video op sosiale media gelaai waarin hy sê dat hy selfisoleer terwyl hy vir sy toetsuitslae wag.

Volgens die Jamaica Observer het dr. Christopher Tufton, die plaaslike minister van gesondheid, laat gister bevestig dat Bolt inderdaad positief vir die virus getoets het.

In sy video het Bolt egter gesê dat hy toe nog geen simptome ervaar het nie.

In sy hardloopdae het hy die verbeelding van die atletiekwêreld aangegryp. Hy is die enigste naelloper wat in drie agtereenvolgende Olimpiese Spele (2008, 2012 en 2016) die goue medaljes in die 100 m- en 200 m-items kon wen.

Hy hou die wêreldrekord in die 100 m (9.58 sekondes) en 200 m (19.19 sekondes).

Krieket:

  • Die voormalige Protea-snelbouler, Marchant de Lange, het ’n blitsige honderdtal vir Glamorgan teen Northamptonshire geslaan.

Glamorgan het in hul tweede beurt op 60/8 gewankel, voordat De Lange soos ’n wafferse superheld die situasie beredder het.

Hy het sy vyftigtal van slegs 29 aflewerings geslaan, terwyl sy honderdtal van ’n blitsige 62 balle gemoker is – dit is die vinnigste honderdtal in Glamorgan se geskiedenis.

Hy is uiteindelik vir 113 van 78 balle uitgehaal.

Rugby:

  • In rugbynuus het Dan Jooste ’n kontrak van twee jaar met die Haaie onderteken.

Die 22-jarige het onder meer vir die Junior Springbokke en die Westelike Provinsie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.