Die Springbokgroep van 31 spelers vir die drie toetse teen Frankryk is bekend gemaak. Warren Whiteley is as kaptein aangewys en is die 58ste Springbokkaptein.
Daar is agt nuwelinge in die span. Ses spelers met ondervinding is ook in die groep, naamlik Frans Steyn, Jan Serfontein, Francois Hougaard, Duane Vermeulen, Coenie Oosthuizen en Chiliboy Ralepelle. Die groep sal aanstaande week ʼn oefenkamp op Plettenbergbaai bywoon.
Europese rugby
Pierre Spies is een van ses spelers wie se kontrakte by die Franse klub Montpellier nie verleng is nie. Vroeër het Demetri Catrakilis onder dieselfde valbyl deurgeloop.
Motorwedrenne
Die aandag is die week op Formule Een en die Indianapolis 500. In Formule Een is dit die Grand Prix van Monaco wat gejaag word. Albei wedrenne word Sondag afgehandel.
Fietsry
Die Toer van Italië se 16de skof is gister gejaag.
Krieket
Die Proteas se reeks teen Engeland begin vandag met die eerste Eendagkragmeting. Dié dag-aandwedstryd word op Headingley in Leeds gespeel en begin om 15:00 Suid-Afrikaanse tyd. AB de Villiers is terug in die span as die Proteas se kaptein.
Intussen het dit bekend geword dat Engeland se voorste bouler, James Anderson, dalk nie vir die eerste toets teen Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie. Hy sukkel tans met ʼn liesbesering.
Vrouekrieket
Suid-Afrika se Vrouespan vir die Wêreldbeker in Junie is bekend gemaak. Die span van 15 lede word aangevoer deur Dané van Niekerk.
Tennis
Die tweede Grand Slam van die jaar, die Franse Ope, begin komende Sondag op Roland Garros. Die toernooi wat op klei gespeel word, duur twee weke.
In Genève se kleibaantoernooi was Suid-Afrika se Kevin Anderson gister in aksie.
Anderson het die sewende gekeurde Paolo Lorenzi met 7-5 en 7-6 geklop. Die sesde gekeurde Sam Querrey het met Daniel Altmaier klaargespeel. Mischa Zverev het op sy beurt met Robin Haase afgereken.
Gholf
Die week se aksie in Amerika is by die Dean & Deluca Uitnodigingstoernooi in
Fort Worth, Texas.
In Europa slaan die spelers af in die BMW PGA Kampioenskap op Wentworth in England.
Intussen het Suid-Afrika se Louis Oosthuizen gehoor dat hy uitgenooi is om aanstaande maand in die VSA Ope te speel.
Sokker
Vanaand word die eindstryd van die Europese beker gespeel. Ajax speel teen Manchester United in die Friends Arena. Die afskop is om 20:45.
By Fifa se o.20-wêreldbekertoernooi in Suid-Korea lyk gister se uitslae só:
Suid-Afrika speel vanoggend teen Italië om 10:00 Suid-Afrikaanse tyd. Ons het die eerste wedstryd met 2-1 teen Japan verloor en daar is twee veranderinge aan vandag se beginspan gemaak.