Vandag se sportnuus

Lionel Messi. Foto: Twitter.

Sokker:

  • Lionel Messi, die Argentynse sokkersuperster, wil sy verbintenis met Barcelona beëindig.

Die 33-jarige Messi het al ’n rits titels saam met die Spaanse klub verower, maar die afgelope seisoen het vir teleurstelling op teleurstelling gesorg. Dit is die eerste keer in 12 jaar dat daar nie ’n enkele trofee in hul vertoonkas is nie, terwyl hulle ook met 8-2 deur Bayern München in die kwarteindstryd van die Europese Kampioeneliga verrinneweer is.

Natuurlik moet daar eers baie water in die see loop voordat hy ’n skuif kan maak – daar is glo ’n uitkoop-klousule van €700 miljoen.

Daarbenewens is Messi ook glad nie ’n goedkoop kopie nie.

Met die $104 miljoen wat hy die afgelope finansiële jaar gemaak het, is hy volgens Forbes die derde rykste sportman ter wêreld. Dan verdien hy ook na bewering €1 miljoen per week in Spanje.

Die enigste klubs wat hom glo sal kan bekostig, is Manchester City en Paris Saint-Germain.

Tennis:

  • In tennis het Serwië se Novak Djokovic na die halfeindstryd van die Western & Southern Ope gevorder toe hy die Duitser Jan-Lennard Struff met 6-3 en 6-1 geklop het.

Die wêreld se voorste speler sal volgende teen Spanje se Roberto Bautista Agut te staan kom.

Die Spanjaard het vir ’n klein opskudding gesorg toe hy vir die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev, met 1-6, 6-4 en 6-3 getroef het.

Krieket:

  • Volgens Mike Hesson, breier van die Royal Challengers Bangalore in die Indiese Premierliga, het spelers soos AB de Villiers en Dale Steyn steeds baie om vir die span te bied.

“Net ’n paar weke gelede was De Villiers, sonder om te oefen, een van die beste spelers in ’n wedstryd in Suid-Afrika. Dit het net weer eens sy waarde en talent onderstreep,” het Hesson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.