Vandag se sportnuus

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Michel Euler

Tennis:

  • Suid-Afrika se voorste tennisspeler, Kevin Anderson, is ’n taai openingsronde van die Amerikaanse Ope te wagte.

Die 34-jarige hemelbesem sal teen die vyfde gekeurde Alexander Zverev van Duitsland te staan kom – ’n speler teen wie Anderson sy laaste vyf wedstryde verloor het.

Lloyd Harris sal teen Italië se Marco Cecchinato in aksie wees.

Die toernooi begin op 31 Augustus in New York en in die afwesigheid van spelers soos Rafael Nadal en Roger Federer is Serwië se Novak Djokovic ongetwyfeld die gunsteling om met die louere weg te stap.

  • Intussen het Japan se Naomi Osaka van deuntjie verander en gesê dat sy wel in die halfeindstryd van die Southern & Western Ope teen België se Elise Mertens sal speel.

Osaka het aanvanklik aangedui dat sy haar aan die toernooi sal onttrek om teen rasseongelykheid en -diskriminasie protes te lewer. Dít volg nadat Jacob Blake, ’n swart man, deur polisie in Wisconsin, VSA, geskiet is.

“Ek is eerstens ’n swart vrou voordat ek ’n atleet is. En as swart vrou voel ek dat daar baie belangriker dinge is wat eerder aandag moet geniet, as om te sien hoe ek tennis speel,” het die Japanse Osaka gesê.

Toernooi-organiseerders het egter alle wedstryde op Donderdag afgelas nadat rassespanning in die VSA weer eens die hoogte ingeskiet het.

“Soos julle weet, was ek bereid om die wedstryd aan my teenstander af te staan, maar ná my aankondiging en ’n lang gesprek met die organiseerders het ek op hul aandrang besluit om weer te speel.”

Rugby:

  • RG Snyman, die Springbokke se vuurvreterslot, kan vir maande op die kantlyn wees nadat hy sy kruisligamente in Ierland geskeur het.

Snyman was skaars sewe minute lank in sy Munster-buiging op die veld voordat hy sy knie teen Leinster beseer het.

  • Die Sale Sharks speel môre om 16:00 teen Bristol in ’n Gallagher Premiership-wedstryd.

Die werketiek van Suid-Afrika se Lood de Jager het Steve Diamond (afrigter) beïndruk.

“Dit was Woensdag ons rusdag, maar Lood was steeds op die oefenveld besig om aan sy lynstaanwerk te skaaf. Hy is ’n ongelooflik professionele speler,” het Diamond gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.