Vandag se sportnuus

Gister se drama in New York. Foto: Twitter.

Tennis:

  • Serwië se Novak Djokovic was goed op koers om die Amerikaanse Ope in New York te wen.

In die afwesigheid van Roger Federer en Rafael Nadal het hy die voorafgaande Western & Southern-opwarmingstoernooi gewen en hy het betreklik maklik tot die vierde ronde van die Ope gevorder.

Maar sy wegholtrein is gister lelik ontspoor toe hy gediskwalifiseer is tydens sy wedstryd teen Pablo Carreño Busta.

Die wêreld se voorste speler het ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om die eerste stel teen die Spanjaard te wen. Uit pure frustrasie het hy die bal weg geslaan en een van die wedstrydbeamptes teen haar keel getref.

Hy het haar onmiddellik te hulp gesnel, maar ná ’n lang gesprek met beamptes is daar besluit om sy Ope-veldtog te beëindig.

Djokovic het intussen op sy amptelike Instagram-rekening om verskoning vir die insident gevra.

“Ek is ongelooflik jammer; dit was so onnodig. Ek vra ook om verskoning vir my gedrag en ek sal my bes doen om hieruit te leer,” het hy geskryf.

Oostenryk se Dominic Thiem is die nuwe gunsteling om die toernooi te wen. Hy speel vandag teen Kanada se Felix Auger-Aliassime in die vierde ronde.

Krieket:

  • Engeland het gister in Southampton die T20-reeks teen Australië beklink toe hulle die wedstryd met ses paaltjies gewen het.

Jos Buttler se onoorwonne 77 lopies het gesorg dat die tuisspan sonder veel probleme die wenteiken van 158 lopies gejaag het.

Rugby:

  • WP Rugby het bevestig dat Ebrahim Rasool die nuwe voorsitter van sy raad is.

Hy vervang Johan van der Merwe. Van der Merwe het ’n sleutelrol vertolk in die beplande finansiële inspuiting van R100 miljoen in die unie deur ’n groep Amerikaanse sakemanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tweeling ·

Hoe belaglik kan krieket toere nou gereel word. Hier speel die Poms 3 T20 reekse teen oorsese spanne en gaan mal oor hulle Aus geklop het, maar Aus het nog nie teen ‘n ander internasionale span gespeel na die virus ding nie. Dis mos nou onregverdige voordeel vir die Poms. Dan aan die anderkant ervaar Engeland ‘n skielike “spike” in virus infeksies maar die sport gaan aan.

tweeling ·

Nou stel die WP vir korrupte Ebrahim Rasool as die voorsitter van sy raad aan. Word wakker!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.