Vandag se sportnuus

Springbokke teen Argentinië (17 Augustus 2019) (Foto: GB Jordaan)

Rugby:

  • Die Rugbykampioenskap sal later vanjaar in Australië voortgaan, maar die Springbokke se deelname moet nog bevestig word.

Die Aussies en Nieu-Seeland het reeds suksesvolle plaaslike toernooie aangebied, met die Kiwi’s wat verlede week ’n skouspelagtige Noord teen Suid-wedstryd aangebied het. In Suid-Afrika is daar nog geen plaaslike wedstryde gespeel nie, terwyl kontakoefening eers weer onlangs hervat kon word.

“Die invloed van die wêreldwye Covid-19-pandemie verskil van land tot land en internasionale sport word nog nie in Suid-Afrika toegelaat nie,” het Andy Marinos, Sanzaar se uitvoerende hoof, gesê.

“Die Springbokke se deelname sal van verskeie faktore afhang; waaronder ’n regulasie-verandering en die heropening van internasionale grense. Suid-Afrikaanse rugbyspelers sal na verwagting eers weer volgende maand na die speelveld terugkeer, wat vir hulle ’n baie kort tydjie gee om doeltreffend voor te berei.”

Die Bokke is die verdedigende kampioenspan.

Tennis:

  • Die Belo-Russiese tennisspeler, Victoria Azarenka, het haar plek in die eindstryd van die Amerikaanse Ope verseker toe sy die VSA se Serena Williams met 1-6, 6-3 en 6-3 geklop het.

Sy kom nou in Saterdag se eindstryd teen Japan se Naomi Osaka te staan wat op haar beurt met nóg ’n Amerikaner, Jennifer Brady, afgereken het.

Die eindtelling was 7-6, 3-6 en 6-3 in Osaka se guns.

Krieket:

  • Die eerste eendagwedstryd tussen Engeland en Australië vind vandag in Manchester plaas.

Die Engelse het die T20-reeks met 2-1 gewen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.