Vandag se sportnuus

Wayde van Niekerk. Foto: AP Photo/Petr David Josek

Atletiek:

  • Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se Olimpiese 400 m-held, het gisteraand sy terugkeer tot die internasionale atletiekverhoog met ’n goue medalje in Switserland gevier.

Die 28-jarige Van Niekerk het sy 400 m-item in ’n tyd van 45,58 sekondes gewen; amper drie sekondes stadiger as sy wêreldrekordtyd van 43,03 sekondes.

Dit is egter ’n stap in die regte rigting vir die talentvolle Suid-Afrikaner nadat hy lank met ’n kniebesering op die krukkelys was.

Rugby:

  • Die All Blacks-afrigter Ian Foster meen dat internasionale ranglyspunte te midde van die onsekerheid van die Covid-19-pandemie vir eers opgeskort moet word.

Dit kom nadat die voormalige Springbokkaptein, Wynand Claassen, gesê het dat die Suid-Afrikaners weens onvoldoende voorbereiding nie deel van vanjaar se Rugbykampioenskap-aksie moet wees nie.

Die Kiwi’s en Australiërs se plaaslike spanne speel al ’n geruime tyd rugby, terwyl oefening in Suid-Afrika nog nie eens behoorlik hervat is nie.

“Ek het selfs gehoor dat die Springbokke nie moet kom nie omdat hulle weens hul [gebrekkige] voorbereiding hul plek op die wêreldranglys sal verloor. Nou ja, wie gee eintlik om oor ranglyspunte vanjaar?” het Foster gesê.

“Die belangrikste is dat daar nou weer ’n bietjie internasionale rugby op die spyskaart is vir die ondersteuners om te geniet. Ons wil natuurlik wen en die beste wees, maar dit moet nie in ons pad staan om weer internasionale rugby te speel nie.”

Tennis:

  • In tennisnuus is Switserland se Stan Wawrinka in die eerste ronde van die Italiaanse Ope deur die 18-jarige Lorenzo Musetti uitgeskakel.

Die jong Italianer het die kragmeting met 6-0 en 7-6 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.