Atletiek:
- Akani Simbine se naelloop-vlam het gisteraand helder in Rome gebrand toe hy die 100 m in ’n tyd van 9,96 sekondes gewen het.
Dit was die Suid-Afrikaner se vierde agtereenvolgende oorwinning op die internasionale verhoog en sy vinnigste oorsese tyd vanjaar.
Die Ivoorkus se Arthur Cissé was tweede met sy tyd van 10,04 sekondes.
- By dieselfde byeenkoms het die paalspring-superster, Swede se Armand Duplantis, ook sy staal gewys. Hy het ’n 26 jaar lange rekord verbeter.
Duplantis het Sergey Bubka se wêreldrekord van 6,14 m na 6,15 m verbeter. Bubka het sy rekord in 1994 opgestel.
Krieket:
- Die Indiese Premierliga begin môre in die Verenigde Arabiese Emirate met die Mumbai Indians wat teen die Chennai Super Kings speel.
Suid-Afrikaanse ondersteuners kan na die spel van Quinton de Kock, Faf du Plessis en Imran Tahir uitsien.
Die wedstryd begin om 16:00 en sal op SuperSport uitgesaai word.
CrossFit:
- Die CrossFit Spele begin ook vandag, maar in die Covid-19-era sal dit aanvanklik ’n aanlyn formaat aanneem, waarna die vyf beste mans en vroue sake in Aromas (Kalifornië) gaan uitspook.
Rugby:
- Intussen is daar bevestig dat Lood de Jager se skouerbesering hom vir ses maande op die kantlyn sal hou.
Die Springbokslot het sy skouer weer beseer in ’n wedstryd vir die Sale Sharks en sal die Rugbykampioenskap misloop.