Vandag se sportnuus

AB de Villiers. Foto: Twitter.

Krieket:

  • AB de Villiers het gisteraand sy 200ste ses vir die Royal Challengers Bangalore geslaan toe hy een van Sandeep Singh se aflewerings oor die grens in Dubai gemoker het.

Die voormalige Protea-kaptein het uiteindelik 51 van slegs 30 aflewerings teen die Sunrisers Hyderabad geslaan om ’n sleutelrol in RCB se oorwinning van tien lopies te speel.

Sy Protea- en RCB-spanmaat, Dale Steyn, het effens gesukkel en moes met boulsyfers van 1/33 tevrede wees.

In vandag se wedstryd speel die Rajasthan Royals teen die Chennai Super Kings in Sharjah. Die aksie begin om 16:00 en sal op SuperSport uitgesaai word.

Tennis:

  • In tennisnuus het Roemenië se Simona Halep haar eerste Italiaanse Ope-titel gewen toe sy Karolina Plíšková in die eindstryd in Rome geklop het.

Halep het die eerste stel op ’n drafstap met 6-0 gewen, waarna die Tsjeggiese speler weens ’n besering die handdoek in die tweede stel moes ingooi.

Die telling was toe 2-1 in Halep se guns.

  • Dan het Serwië se Novak Djokovic sy vyfde Italiaanse Ope-titel verower toe hy Argentinië se Diego Schwartzman met 7-5 en 6-3 in die eindstryd gewen het.

Die Franse Ope begin Vrydag in Parys.

Rugby:

  • Die Blitsbokke se JC Pretorius en Selvyn Davids is vir die Wêreldsewesreeks se Droomspan vir die 2019/’20-seisoen gekies.

Die twee Suid-Afrikaners is saam met Scott Curry (Nieu-Seeland), Tavite Veredamu (Frankryk), Napolioni Bolaca (Fidji), Jordan Conroy (Ierland) en Aminiasi Tuimaba (Fidji) in die span opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.