Vandag se sportnuus

Duane Vermeulen. Foto: ANA

Rugby:

  • Bulls-ondersteuners sal môre hul eerste proesel van die Jake White/Duane Vermeulen-kombinasie kry wanneer die Pretorianers teen die Sharks in hul Super Fan-wedstryd op Loftus Versfeld speel.

White het vroeër vanjaar die afrigtersleisels by Pote Human oorgeneem en hy het die hardebaard-Springbok-agsteman as sy kaptein aangewys.

Jason Jenkins, Gio Aplon en Stedman Gans sal ook hul staal in die blou trui kan wys.

Die wedstryd skop môre om 16:25 af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls:

Voorspelers: Tim Agaba, Arno Botha, Nizaam Carr, Corniel Els, Schalk Erasmus, Jason Jenkins, Juandré Kruger, Sintu Manjezi, Ruan Nortjé, Trevor Nyakane, Mornay Smith, Muller Uys, Jacques van Rooyen, Marco van Staden, Duane Vermeulen (kaptein) en Jan-Hendrik Wessels.

Agterspelers: Gio Aplon, Kurt-Lee Arendse, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Travis Ismaiel, Stravino Jacobs, David Kriel, Embrose Papier, Jade Stighling, Chris Smith, Morné Steyn, Clinton Swart, Marco Jansen van Vuren, Ivan van Zyl.

Krieket:

  • AB de Villiers en sy Royal Challengers Bangalore-spanmaats is gisteraand deur die Kings XI Punjab met 97 lopies verrinneweer.

Punjab se KL Rahul het ’n onoorwonne 132 van slegs 69 balle geslaan om die grondslag vir ’n groot sege te lê.

De Villiers (28 van 18 balle) het naasbeste met die kolf vir RCB gevaar, maar Virat Kholi (1) het ’n swak dag gehad nadat hy ook ’n paar vangskote verbrou het.

Dale Steyn het ook met die bal gesukkel en met boulsyfers van 0/57 geëindig.

Tennis:

  • Die voormalige Franse Ope-kampioen, Stan Wawrinka, en Brittanje se Andy Murray sal vir ’n watertand-kragmeting sorg wanneer hulle in die openingsronde van die toernooi op Roland Garros kragte meet.

Rafael Nadal sal teen Bulgarye se Egor Gerasimov te staan kom, terwyl Novak Djokovic teen Swede se Mikael Ymer in die eerste ronde in aksie sal wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.