Vandag se sportnuus

(Foto: Twitter)

Rugby:

  • Die Bulls, Lions, Sharks en Stormers sal deel van die vergrote Pro16-toernooi word, het SA Rugby (Saru) gister bevestig.

Dit beteken dat daar weer nie plek vir die Vrystaatse Cheetahs is nie. Die Bloemfonteiners het in 2017 deel van die Europese kompetisie geword nadat hulle uit die Superrugby-reeks geskop is.

Voordat hul deelname aan die onlangse reeks deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery is, het Ruan Pienaar se span ses van hul 13 wedstryde gewen. Hulle was veral gedugte teenstanders op hul tuisveld en het met hul hardlooprugby gereeld vir skouspelagtige drieë gesorg.

“Dit is te verstane dat sekere besluite geneem moet word om vorentoe te beweeg, maar dit sal onregverdig wees om die Vrystaat uit te skop juis omdat dié span ook aan die kortste ent in die Superrugby-reeks getrek het,” het Chris Massyn, die Vrystaatse losvoorspeler, vroeër aan Maroela Media gesê.

(Foto: Toyota Cheetahs/Twitter)

Die Cheetahs kan nou deel van ’n Super 8-kompetisie word. Die reeks sal onder meer uit twee spanne elk uit Nieu-Seeland en Australië, asook ’n span van Suid-Afrika, Argentinië en Japan bestaan.

Die Cheetahs het die afgelope naweek ’n opwarmingswedstryd teen die Griekwas met 40-7 in Kimberley gewen en kan seker nie wag vir die komende plaaslike reeks om te begin nie: Hulle sal vir die Suid-Afrikaanse rugbybase wil wys waartoe hulle in staat is.

Maar het hulle dit nie reeds genoeg vantevore gedoen nie?

Krieket:

  • In gisteraand se IPL-wedstryd het die Sunrisers Hyderabad die Delhi Capitals met 15 lopies gewen.

Suid-Afrika se Kagiso Rabada het 2/21 vir die Capitals geneem.

Tennis:

  • Novak Djokovic het maklik met Swede se Mikael Ymer in sy openingswedstryd afgereken.

Die telling was 6-0, 6-2 en 6-3 in die Serwiër se guns.

Suid-Afrika se Kevin Anderson en Lloyd Harris het ook al twee na die tweede ronde van die toernooi deurgedring.

Anderson speel volgende teen Serwië se Dušan Lajović, terwyl Harris teen Italië se Matteo Berrettini sal kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Die Vrystaat Cheetahs kort dalk dringend ‘n nuwe topbestuur. Dalk moet die ondersteuners hulself afvra hoekom die unie geleidelik ten gronde gegaan het oor die afgelope 20+ jaar; hoekom die goeie spelers gereeld die hasepad gekies het; hoekom die unie op die bankrotkantlyn boer; hoekom die toeskouergetalle en die entoesiasme so gedaal het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.