Vandag se sportnuus

Diego Schwartzman. (AP Photo/Michel Euler).

Tennis:

  • Argentinië se Diego Schwartzman meen hy kan Rafael Nadal klop.

“Ja, ek weet hy loop met 10 – 1 voor, maar hierdie week wéét ek dat ek hom kan klop.”

Só het Schwartzman gesê nadat joernaliste hom oor sy komende halfeindstryd-ontmoeting teen Nadal op Roland Garros gepols het.

Die 28-jarige Suid-Amerikaner het gisteraand in ’n epiese kragmeting met Oostenryk se Dominic Thiem in die kwarteindstryd van die Franse Ope afgereken. Ná meer as vyf uur se spel het Schwartzman uiteindelik met 7-6, 5-7, 6-7, 7-6 en 6-2 gewen.

Daarteenoor het Nadal betreklik maklik met die 19-jarige Italiaanse tennissensasie Jannik Sinner klaargespeel. Die Spanjaard het die wedstryd met 7-6, 6-4 en 6-1 gewen.

Die Argentyn sal oorgehaal wees vir Vrydag se halfeindstryd. Hy het vir Nadal onlangs op die kleibane van Rome uitgeskakel, terwyl twee dae se ruskans ook voldoende sal wees om sy batterye ná die Thiem-tweestryd te herlaai.

“Dit gaan nie ’n maklike wedstryd wees nie – almal weet hoe goed Nadal in Parys speel – maar ek is oorgehaal om my beste te gee,” het Schwartzman gesê.

  • Serwië se Novak Djokovic speel vandag teen Spanje se Pablo Carreno Busta in die ander kwarteindstryd.

Rugby:

  • Suid-Afrikaners behoort teen Saterdag te weet of die Springbokke deel van vanjaar se Rugbykampioenskap-aksie in Australië sal wees.

Die toernooi begin op 7 November en ná verlede naweek se flouerige Groen teen Goud-wedstryd op Nuweland, is dit duidelik dat van Suid-Afrika se beste plaaslike spelers nog nie wedstrydgereed is nie.

Krieket:

  • In gister se IPL-wedstryd het die Mumbai Indians die Rajasthan Royals met 57 lopies geklop.

Suid-Afrika se Quinton de Kock het 23 vinnige lopies van slegs 15 aflewerings geslaan, terwyl Jasprit Bumrah (4/20) en James Pattinson (2/19) met die bal uitgeblink het.

In vandag se wedstryd speel Faf du Plessis se Chennai Super Kings teen die Kolkata Knight Riders.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.