Vandag se sportnuus

Joshua Cheptegei. Foto: Twitter.

Atletiek:

  • Uganda se Joshua Cheptegei het gisteraand in Valencia die 10 000 m-wêreldrekord stukkend gehardloop.

Die 24-jarige het ’n blitsige 26:11:2 min gehardloop om Kenenisa Bekele se rekord van 26:17:53 min met meer as ses sekondes te verbeter.

Duidelik het Cheptegei sy hardloopmes vir Bekele in: Hy het in Augustus ook sy 5 000 m-wêreldrekord – wat 16 jaar lank gestaan het – na 12:33:36 min verbeter.

  • By dieselfde byeenkoms in Valencia het Ethiopië se Letesenbet Gidey die 5 000 m-rekord met meer as vier sekondes verpletter.

Sy het die item in ’n spogtyd van 14:6:62 min kafgedraf.

Krieket:

  • In gisteraand se IPL-kragmeting het die Kokata Knight Riders vir Faf du Plessis se Chennai Super Kings met 10 lopies geklop.

Du Plessis het goed begin en drie grenshoue geslaan, maar hy is vir 17 deur Shivam Mavi uitgehaal.

In vanaand se wedstryd speel die Kings XI Punjab teen die Sunrisers Hyderabad, terwyl Kagiso Rabada en Anrich Nortjé se Delhi Capitals môre teen die Rajasthan Royals speel.

Tennis:

  • Die halfeindstryde van die Franse Ope op Roland Garros is bevestig.

Novak Djokovic sal teen Stefanos Tsitsipas speel, terwyl Rafael Nadal teen Diego Schwartzman sal kragte meet.

In die vroue-afdeling speel Iga Świątek teen Nadia Podoroska, terwyl Sofia Kenin teen Petra Kvitova in aksie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.