Vandag se sportnuus

Fourie du Preez. Foto: Twitter.

Rugby:

  • Fourie du Preez was in sy speeldae een van die spilpunte waarom die Springbokke en Blou Bulle se sukses gedraai het. Nou is die voormalige skrumskakel terug by Loftus Versfeld waar hy ’n mentor vir Ivan van Zyl en Embrose Papier sal wees.

“Konsultante is vir ons belangrik. Ek dink dat iemand soos Fourie – selfs al wil hy nie afrig nie – steeds ’n belangrike rol kan vertolk deur sy kennis en kundigheid aan ouens soos Ivan en Embrose oor te dra. Die jong o.21-skrumskakels kan ook daarby baat,” het die Pretorianers se direkteur van rugby, Jake White, gesê.

Die Bulls speel juis vanaand om 19:00 teen die Cheetahs in Bloemfontein.

  • In die ander plaaslike rugbywedstryde speel die Griekwas teen die Pumas (Saterdag om 16:30) en die Stormers teen die Lions (Saterdag om 19:00).
  • Die All Blacks en Australië speel Sondag in hul tweede Bledisloe-wedstryd op Eden Park en al twee spanne sal oorgehaal wees om hul beste te lewer nadat die eerste kragmeting op skouspelagtige wyse gelykop geëindig het.

Beauden Barrett. Foto: Twitter.

Beauden Barrett, wat die eerste wedstryd met ’n hakskeenbesering misgeloop het, is terug in die no. 15-trui, terwyl Damian McKenzie na die plaasvervangersbank skuif.

Die wedstryd begin Sondag om 05:00.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Jordie Barrett (regtervleuel), Anton Lienert-Brown (buitesenter), Jack Goodhue (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (flank en kaptein), Shannon Frisell (flank), Tupou Vaa’i (slot), Patrick Tuipulotu (slot), Ofa Tuungafasi (stut), Dane Coles (haker) en Joe Moody (stut). Plaasvervangers: Codie Taylor, Alex Hodgman, Nepo Laulala, Scott Barrett, Hoskins Sotutu, TJ Perenara, Rieko Ioane en Damian McKenzie.

Krieket:

  • In gisteraand se IPL-wedstryd het die Kings XI Punjab vir die Royal Challengers Bangalore met agt paaltjies geklop.

KL Rahul (61 van 49 balle) en Chris Gayle (53 van 45 balle) het amok onder die RCB-boulers gemaak nadat die Bangalore-span 171/6 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het.

Daar is veral kop gekrap oor die besluit om AB de Villiers eers op no. 6 in te stuur om te kolf. Die 36-jarige Suid-Afrikaner kon net twee lopies van vyf balle bymekaarskraap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.