Vandag se sportnuus

Gio Aplon. Foto: Twitter.

Rugby:

  • Die Bulls kan vir tot ses maande sonder die diens van hul 38-jarige heelagter, Gio Aplon, wees.

Die vlugvoetige agterspeler het Vrydagaand sy knie in die Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein beseer.

Die Cheetahs-kaptein, Ruan Pienaar, wat in dieselfde kragmeting ook sy knie seergemaak het, se besering-vooruitsig is effens meer rooskleurig: Volgens berigte kan hy weer voor die einde van die jaar sy terugkeer op die speelveld maak.

Die naweek se Superrugby Unlocked-bepalings:

Pumas teen Stormers (Vrydag 19:00 in Nelspruit)

Lions teen Cheetahs (Saterdag 16:30 in Johannesburg)

Bulls teen Sharks (Saterdag 19:00 in Pretoria)

Krieket:

  • In gisteraand se IPL-kragmeting het die Rajasthan Royals vir die Chennai Super Kings met sewe paaltjies geklop.

Die Engelse paaltjiewagter Jos Buttler het met sy houespel beïndruk en 70 lopies van slegs 48 aflewerings vir die Royals gemoker. Sy beurt het nege grenshoue ingesluit.

Kagiso Rabada en Anrich Nortjé se Delhi Capitals speel vandag teen die Kings XI Punjab.

Tennis:

  • Suid-Afrika se Lloyd Harris het gister Argentinië se Federico Coria in ’n kwalifiseringstryd vir die Europese Ope met 6-4 en 6-0 geklop.

Die jong Suid-Afrikaner het verlede week in die kwarteindstryd van ’n ATP-toernooi in Keulen teen Duitsland se Alexander Zverev met 6-4, 3-6 en 6-0 verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae