Vandag se sportnuus

Quinton de Kock (argieffoto).

Krieket:

  • Die Proteas speel binnekort hul eerste internasionale wedstryde in maande nadat die Suid-Afrikaanse regering die groen lig gegee het vir die Engelse toer om voort te gaan. Die aksie begin op 27 November en die laaste wedstryd sal op 9 Desember gespeel word.

In die Covid-19-era sal die kragmetings in die Paarl en op Nuweland agter geslote deure aangebied word.

Bepalings:

T20-wedstryde: 27 November (18:00 op Nuweland); 29 November (14:30 in die Paarl); 1 Desember (18:00 op Nuweland).

Eendagwedstryde: 4 Desember (13:00 op Nuweland); 6 Desember (10:00 in die Paarl); 9 Desember (13:00 op Nuweland).

  • In gisteraand se IPL-kragmeting in Abu Dhabi het Royal Challengers Bangalore die Kolkata Knight Riders met agt paaltjies geklop.

KKR het eerste gekolf en is te danke aan skitterende boulwerk tot 84/8 in hul 20 boulbeurte beperk. Mohammed Siraj (3/8) en Yuzvendra Chahal (2/15) het amok onder die kolwers gemaak.

Rugby:

  • Duhan van der Merwe sal môre sy Skotse buiging maak wanneer hy op linkervleuel teen Georgië op Murrayfield uitdraf.

Nóg ’n Suid-Afrikaner, die voorspeler Oli Kebble, is op die Skotte se plaasvervangerbank ingesluit.

Skotland: Blair Kinghorn (heelagter), Darcy Graham (regtervleuel), Chris Harris (buitesenter), James Lang (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Adam Hastings (losskakel), Ali Price (skrumskakel), Matt Fagerson (agtsteman), Hamish Watson (flank), Jamie Ritchie (flank), Scott Cummings (slot), Ben Toolis (slot), Zander Fagerson (stut), Fraser Brown (kaptein en haker) en Rory Sutherland (stut). Plaasvervangers: Stuart McInally, Oli Kebble, Simon Berghan, Rob Harley, Nick Haining, Cornell du Preez, George Horne en Finn Russell.

Tennis:

  • Suid-Afrika se Lloyd Harris speel vandag teen die VSA se Taylor Fritz in die Europese Ope. Die 23-jarige tennisspeler het Dinsdag Frankryk se Corentin Moutet met 7-5 en 6-2 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae