Vandag se sportnuus

Die Jaguars vier fees. Foto: Verskaf.

Netbal:

  • Die Jaguars het gisteraand in Bloemfontein die Crinums met 38 – 26 in die eindstryd van die Telkom-liga geklop.

Dit is die Gautengse span se vierde titel terwyl hulle ook die seisoen onoorwonne afgesluit het.

Wat die sege ook soveel soeter maak is die feit dat dit die eerste keer is wat die Jaguars die Crinums in ’n eindstryd kon klop. Die Vrystaters het in die vorige drie eindstryde tussen die twee spanne met die louere weggestap.

Spesiale toekennings:

Speler van die toernooi: Izette Griesel

Beste doelskieter: Lefébre Rademan

Beste middelbaan-speler: Bongi Msomi

Beste verdediger: Nicola Smith

Krieket:

  • In gisteraand se IPL-wedstryd het David Warner (66) en Wriddhiman Saha (87) se blitsbeurte gesorg dat die Sunrisers Hyderabad die Delhi Capitals met 88 lopies geklop het.

Die Sunrisers het eerste gekolf en 219/2 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Suid-Afrika se Kagiso Rabada (0/54) het gesukkel, terwyl Anrich Nortjé (1/37) darem van Saha ontslae geraak het.

In vandag se wedstryd speel die Mumbai Indians teen die Royal Challengers Bangalore.

Atletiek:

  • Die huidige 100 m-wêreldkampioen, die VSA se Christian Coleman, is vir twee jaar uit atletiek geskors.

Die 24-jarige atleet het ’n paar toetse vir opkikkermisbruik misgeloop en sal dus nie deel van volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio wees nie. Hy het 30 dae tyd om teen die beslissing te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae