Die Franse Ope se derde dag is gister op Roland Garros afgehandel. Die lys van gister se wenners sluit in die derde gekeurde Stan Wawrinka, die eerste gekeurde Andy Murray asook Suid-Afrika se Kevin Anderson. Anderson het in drie stelle met Malek Jaziri van Tunisë klaargespeel.
In die Vroue-enkelspel het die vyfde gekeurde Elina Svitolina deurgedring na die tweede ronde. Die sewende gekeurde Johanna Konta is egter uitgeskakel.
In die Dubbelspel het Suid-Afrika se Raven Klaasen en sy spanmaat, Rajeev Ram, ook deurgedring na die tweede ronde.
Krieket
Die Proteas se ster-bouler, Kagiso Rabada, het sy spanmaat Imran Tahir as die voorste eendagbouler in die wêreld vervang. AB de Villiers is steeds die voorste kolwer met Quinton de Kock nou vierde.
Die IKR se Kampioenetrofee begin môre met die gasheerland Engeland wat teen Bangladesj speel. Suid-Afrika se eerste wedstryd word Saterdag gespeel.
Junie
Motorwedrenne
Vandeesweek val die fokus op die Moto GP-reeks. Die Grand Prix van Italië word Sondag gejaag.
Superrugby
Die Suid-Afrikaanse spanne neem nou ’n ruskans tot in Julie-maand, na afloop van die toetsreeks teen die Franse. Komende naweek sal daar egter steeds Superrugby in Nieu-Seeland en Australië gespeel word.
Internasionale Rugby
Suid-Afrika het gister hul bod ingedien om die 2023 Wêreldbekertoernooi aan te bied. Dié dokument, wat uit 827 bladsye bestaan en 8,2kg weeg, is by rugby se hoofkantoor in Dublin, Ierland, aan Wêreldrugby oorhandig.
Die Britse Leeus se toer na Nieu-Seeland begin komende naweek en duur tot aan die begin van Julie. Die Leeus sal tien wedstryde speel wat drie toetse teen die All Blacks insluit.
Intussen het die Wallabies verskeie nuwe spelers in hul span ingesluit vir die Junie-toetse teen Fidji, Skotland en Italië. Van die bekendes wat beseer is sluit in Ben McCalman, James Slipper en Kurtley Beale.
Die Wêreld Junior-Rugbykampioenskap vir o.20’s begin vandag met nie minder nie as ses wedstryde wat gespeel word.
Ses van die agt spelers in vanjaar se Junior Springbok-groep, wat ook verlede jaar gespeel het, sal vandag teen Frankryk in aksie wees.
Gholf
Met die VSA Ope Gholftoernooi nou net drie weke weg, verskuif die fokus dié week na die Memorial Toernooi in Ohio. In Europa slaan die spelers môre af in die Nordea Meesters in Swede.
Sokker
Wayne Rooney is uitgelaat uit Engeland se span vir die Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryd teen Skotland op 10 Junie.
By FIFA se o.20-wêreldbekertoernooi in Suid-Korea lyk gister se uitslae só:
Republiek van Korea 1 – 3 Portugal
Venezuela 0 – 1 Japan