Vandag se sportnuus

Kagiso Rabada en sy Delhi Capitals-spanmaats. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Die wenner van die Indiese Premierliga word vandag in die Verenigde Arabiese Emirate bepaal wanneer die Mumbai Indians die Delhi Capitals in die eindstryd aanvat.

Quinton de Kock (483 lopies teen ’n gemiddeld van 37,15) is een van die Indians se gevaarmanne, terwyl Kagiso Rabada (29 paaltjies teen 17,79) en Anrich Nortjé (20 paaltjies teen 24,35) weer die septer op die boulfront vir die Delhi-manne swaai.

Die wedstryd begin om 16:00.

  • In plaaslike krieketnuus spog die Lions se Beuran Hendricks met ’n boulontleding van 7/29 teen die Cape Cobras.

Hendricks se heldedade het gesorg dat die Kaapse span vir 115 lopies uitgeknikker is. Kyle Verreynne (51) het die meeste lopies vir die Cobras geslaan.

Rugby:

  • Die Wallabies se Lachlan Swinton is vir vier weke geskors ná ’n gevaarlike duikslag teen die All Blacks in Brisbane.

Lachlan is in die 35ste minuut van die Brisbane-toets met ’n rooi kaart van die veld gestuur nadat hy Sam Whitelock platgetrek het.

  • Gianni Lombard, die opwindende agterspeler van die Lions, kan vir tot nege maande op die krukkelys wees nadat hy sy knieligament geskeur het.

Tennis:

  • Die ATP Finals-toernooi begin hierdie naweek in Londen en die Parys Meesters-kampioen, Daniil Medvedev, is gereed vir aksie.

“Ek voel baie beter as verlede jaar toe ek al drie van my groepwedstryde verloor het,” het die 24-jarige Rus gesê.

“Ek het pas ’n toernooi gewen en daar is darem ’n paar rusdae vóór die Londen-toernooi begin. Hopelik kan ek ook ’n paar wedstryde daar wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.