Vandag se sportnuus

Bafana Bafana. Foto: Twitter.

Sokker:

  • Selfs al het Bafana Bafana nie die beste opwarmingspelpeil getoon nie – hulle het gelykop teen Namibië (1 – 1) gespeel en teen Zambië (2 – 1) verloor – is hulle gereed vir aksie wanneer hulle Vrydag teen Sao Tome e Principe speel.

Die Suid-Afrikaners sal die eilandmanne in kwalifiserende wedstryde vir die Afrikanasiesbeker eers in Durban en dan in Port Elizabeth die stryd aansê nadat Soa Tome weens die Covid-19-reisbeperkings ingestem het om hul tuiswedstryd ook in Suid-Afrika te speel.

Bafana Bafana se Keagan Dolly – wat vir Montpellier in Europa speel – het gesê dat die span oorgehaal is om te wen, veral omdat hulle op tuisbodem speel.

Suid-Afrika is tans 72ste op die wêreld-sokkerranglys.

Vrydag se wedstryd begin om 21:00.

Rugby:

  • Die vuurvreter Suid-Afrikaanse losvoorspeler Marcell Coetzee was onder die puntemakers in Ulster se oorwinning van 40 – 15 teen die Glasgow Warriors in die Pro14-reeks.

Die 29-jarige Coetzee het vroeër ’n spul toekennings tydens Ulster se virtuele toekenningsaand opgeraap.

Hy is onder meer die ondersteuners en rugbyskrywers se speler van die jaar sowel as die rugbypersoonlikheid van die jaar vir die 2019-’20-seisoen.

Coetzee het 30 Springboktoetse agter sy naam en het in 2016 deel van dié Ierse klubspan geword.

  • In hierdie naweek se Superrugby Unlocked-wedstryde speel Griekwas teen die Sharks in Kimberley, terwyl die Lions gasheer vir die Pumas op Ellispark speel. Die Stormers rond die naweek se aksie teen die Cheetahs op Nuweland af.

Krieket:

  • Dean Elgar het sy goeie spelpeil in die plaaslike meerdagreeks voortgesit toe hy 66 lopies vir die Titans teen die Warriors geslaan het.

Aiden Markram is vir 17 uitgehaal, maar Heinrich Klaasen het ’n onoorwonne vyftigtal aangeteken. Vroeër het Lizaad Williams 4/64 vir die Pretorianers geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

“Suid-Afrika is tans 72ste op die wêreld-sokkerranglys.” LMGA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.