Vandag se sportnuus

Aiden Markram. (Twitter @AidzMarkram)

Krieket:

  • Die belowende openingskolwer Aiden Markram het gister die kollig gesteel in die Titans se wedstryd teen die Warriors op SuperSportpark.

Die 26-jarige Markram het 149 onoorwonne lopies van slegs 189 aflewerings geslaan. Sy beurt het reeds 27 viere en ’n ses ingesluit. En om sy beurt vinnig in perspektief te plaas: Geen ander Titans-kolwer het meer as 35 lopies aangeteken nie.

Ondanks ’n blink begin tot sy internasionale loopbaan het hy veral op die Proteas se vorige toer na Indië gesukkel, terwyl ’n gebreekte vinger hom vir die reeks teen Engeland op die kantlyn gehou het.

Hy is egter een van die gunstelinge om die volgende Suid-Afrikaanse toetskaptein te word en sy pragbeurt in Centurion het weer sy talent onderstreep.

Die Titans-kolwer se kapteinskap-ambisie word juis deur dr. Ali Bacher ondersteun.

“Aiden is ’n natuurlike leier en hoewel hy ’n baie moeilike tyd in Indië gehad het, tel ouderdom in sy guns. Gee hom ’n paar jaar om te wys van watter stoffasie hy gemaak is,” het Bacher destyds gesê.

Rugby:

  • Die Queensland Rugby-unie het vandag bevestig dat Tom Lynagh, seun van die legendariese Wallabies-losskakel Michael, ’n kontrak met die span onderteken het.

Die 17-jarige Lynagh het ’n kontrak van twee jaar met die Reds onderteken en sal volgende jaar in Brisbane aanmeld.

Michael Lynagh is ’n Australiese rugbylegende. Hy het in 72 toetse vir die Wallabies gespeel en was die onderkaptein toe Aussies die Webb Ellis-trofee in 1991 omhoog gehou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.