Vandag se sportnuus

Lenize Potgieter en Lefébre Rademan in aksie teen Malawi. Foto: Twitter.

Netbal:

  • Die Protea-netbalafrigter, Dorette Badenhorst, vier vandag haar verjaardag en haar nasionale span het gisteraand vir die perfekte geskenk gesorg toe hulle Malawi verrinneweer het.

Die Proteas het die eerste wedstryd van die reeks met 65 – 25 gewen nadat hulle teen rustyd reeds met 31 – 9 voorgeloop het.

Shadine van der Merwe en Bongi Msomi was veral op hul stukke, terwyl Lenize Potgieter en Lefébre Rademan se akkuraatheid in die doelsirkel die besoekers op die telbord seergemaak het.

“Dit is ’n wonderlike begin tot die reeks en ons sterk eerste kwart het vir my die geleentheid gegee om vir die hele span speelkans te gee. As afrigter is ek baie gelukkig met die talent en diepte waarmee ek kan werk,” het Badenhorst gesê.

Die twee spanne meet weer vanaand om 19:00 kragte. Die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Krieket:

  • In die eerste eendagwedstryd tussen Australië en Indië in Sydney het die tuisspan die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Aaron Finch en David Warner het sterk begin en hulle het 156 lopies om die eerste paaltjie aangeteken voordat Mohammed Shami vir Warner (69) uitgehaal het.

Die Aussies het tans 169/1 op die telbord met Finch (81) en Steve Smith (4) voor die paaltjies.

  • Die Proteas speel ook vandag hul eerste internasionale wedstryd sedert Maart wanneer hulle gasheer vir die Engelse toerspan speel.

Die aksie in die eerste T20-wedstryd op Nuweland begin om 18:00.

Rugby:

  • In Curriebekernuus is Jaco Kriel weer terug in die Leeus se beginspan vir hul wedstryd teen Griekwas in Kimberley.

Willem Alberts sal die wedstryd op slot vir die Johannesburgers begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.