Vandag se sportnuus

Foto: Jeremy Ng/AFP.

Krieket:

  • Earl Eddings, die voorsitter van Krieket Australië (CA), het gesê dat die land se krieketspan steeds na Suid-Afrika wil toer, maar dat sy spelers se welstand die hoofprioriteit is.

Die Aussies moet in Februarie ’n paar wedstryde in Suid-Afrika kom speel, maar met die Proteas se bio-borrel wat kritiek ontlok en ’n paar spelers wat positief getoets het, was daar reeds sprake dat die reeks moontlik na Perth geskuif kan word.

Die afgelope eendagkrieketreeks teen Engeland is juis afgelas, terwyl die Protea-keurders noodgedwonge versterkings moes inroep nadat twee spelers op die vooraand van die toetsreeks teen Sri Lanka positief vir die virus getoets het.

“Ons sal die Sri Lanka-reeks noukeurig monitor. Ons wil graag teen die Proteas in Suid-Afrika speel; dit sal baie vir die spel in hierdie tyd beteken. Maar terselfdertyd is die veiligheid en welstand van ons spelers en bestuur ons hoofprioriteit,” het Eddings gesê.

Die eerste toets teen Sri Lanka begin op 26 Desember. Geen Protea-speler het intussen weer positief vir die virus getoets nie.

  • Nieu-Seeland het gister die tweede T20-wedstryd teen Pakistan met nege paaltjies in Hamilton gewen.

Mohammad Hafeez se onoorwonne 99 lopies van 57 aflewerings het die besoekers in staat gestel om 163/6 in hul toegelate 20 boulbeurte aan te teken.

Die tuisspan se Tim Seifert (84) en Kane Williamson (57) het egter ’n uitstekende vennootskap van 129 lopies om die tweede paaltjie geniet om die wedstryd vir die Nieu-Seelanders te beklink.

Rugby:

  • In die komende naweek se Curriebeker-aksie speel die WP teen Griekwas (26 Desember om 16:30), terwyl die Bulle teen die Leeus op Loftus Versfeld sal kragte meet (26 Desember om 19:00).

Die Cheetahs en die Sharks is op 27 Desember om 16:30 in aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.