Vandag se sportnuus

Internasionale rugby

Die Britse en Ierse Leeus het gister in hul sesde wedstryd van hul toer deur Nieu-Seeland teen die Chiefs gespeel. Die Leeus het dié klipharde wedstryd oorheers en was rustyd met 13-6 voor. In die tweede helfte het hulle nog drie drieë gedruk en uiteindelik met 34-6 geseëvier.

Volgende bepalings

Slegte nuus uit die Springbokkamp is dat die skrumskakel Ross Cronje nié oorweeg kan word vir die Bokke se derde en finale toets teen Frankryk nie. Cronje het laat eers tekens van harsingskudding begin toon ná die toets in Durban. Die Bokspan word môre bekend gemaak.

Intussen is Lionel Mapoe en Francois Venter vrygestel om hulle by die SA “A”-span aan te sluit. Vrydag speel dié span in sy tweede wedstryd teen die Franse Barbarians.

Op die jongste Wêreld-rugbyranglys is Suid-Afrika in die sesde plek.

Krieket 

Die Proteas speel vandag teen Engeland in die eerste van drie T20-wedstryde. AB de Villiers sal die span aanvoer terwyl Faf du Plessis ʼn ruskans geniet.

Op die jongste T20-wêreldranglys is Engeland derde en Suid-Afrika sesde.

Tennis

By die Queensklub se Kampioenskapreeks in Londen was daar groot skokke. Die eerste gekeurde Andy Murray is in sy openingswedstryd deur die wêreld se nommer 90ste speler, Jordan Thompson van Australië, met ʼn telling van 7-6 en 6-2 geklop. Feliciano Lopez het die tweede gekeurde Stan Wawrinka, ook in twee stelle, met 7-6 en 7-5 uitgeskakel.

En by die Halle Ope in Duitsland was daar ook oorwinnings vir die eerste gekeurde Roger Federer asook die derde gekeurde Kei Nishikori.

In die dubbelspel het Suid-Afrika se Raven Klaasen en Rajeef Ram die Franse span van Monfils en Simon met 6-4 en 6-1 geklop.

Gholf

Die aksie verskuif die week na die Travelers Kampioenskap in die VSA. Die toernooi word in Connecticut gespeel.

In Europa slaan die spelers môre in München af in die BMW Internasionale Ope. Die lys van spelers sluit ses voormalige kampioene in. Hulle is Hendrik Stenson, Pablo Larrazábal (2011, 2015), Fabrizio Zanotti (2014), Ernie Els (2013) en Martin Kaymer (2008).

Op die plaaslike front is aangekondig dat die Alfred Dunhill Kampioenskap nie vanjaar sal plaasvind nie. Daar word veranderinge aan die Leopard Creek-baan gemaak wat nie betyds voltooi sal wees nie.

Sokker

Vanaand word daar twee Konfederasiebekerwedstryde gespeel.

Vanaand in die Afrika Kampioeneliga speel Esperance teen Mamelodi Sundowns.

Saterdag word die Nedbankbeker se eindstryd tussen Orlando Pirates en Supersport United beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.