Vandag se sportnuus

Krieket

  • Krieket Australië het die plaasvervangers bekend gemaak wat David Warner, Steve Smith en Cameron Bancroft sal vervang. Queensland se Matthew Renshaw en Joe Burns, asook Victoria se Glenn Maxwell is na Suid-Afrika ontbied. Intussen is Warner en Smith vir 12 maande uit die spel geskors en Bancroft vir nege maande. Die vierde toets teen Suid-Afrika begin môre op die Wanderers in Johannesburg.

Hokkie

  • Suid-Afrika se mansspan is reeds in Australië om voor te berei vir die Statebondspele wat aanstaande Woensdag begin. Suid-Afrika sal teen Wallis, Kanada en Indië speel om seker te maak hulle is slaggereed vir die spele.

Rurgby

  • Die skeidsregters wat in beheer sal wees van die Bokke se volgende vier toetse is bekend gemaak. Matthew Carley van Engeland sal op 2 Junie die fluitjie dra teen Wallis in Washington. Engeland kom in Junie in Suid-Afrika toer en sal drie toetse speel. Die drie skeidsregters is Ben O’Keeffe van Nieu-Seeland, die Fransman Romain Poite, en dan weer ʼn Nieu-Seelander, Glen Jackson.

Gholf

  • In die Amerikaanse PGA is die aandag dié week op die Houston Ope in Humble, Texas. Van die Suid-Afrikaners wat vandag sal afslaan, sluit in Dylan Frittelli, Retief Goosen en Ernie Els. Aanstaande week word die eerste major van die jaar, die Amerikaanse Meesters, op Augusta afgehandel.

Superrugby

  • Ses wedstryde word dié naweek gespeel.
30ChiefsvHighlandersFMG Stadion Waikato08:35
30RebelsvHurricanesAAMI Park10:45
31BluesvSharksEden Park08:35
31BrumbiesvWaratahsGIO Stadion10:45
31BullsvStormersLoftus Versfeld17:15
1 AprLionsvCrusadersEmirates Airlines Park14:30

 

  • Marius van der Westhuizen sal die skeidsregter wees in die Bulls en Stormers se kragmeting, terwyl Jaco Peyper in beheer van die Lions en Crusaders se wedstryd sal wees.

 Atletiek

  • Met die Statebondspele nou net ʼn week weg het Suid-Afrika die slegte nuus ontvang dat ons ster-naelloper, Carina Horn, haar aan die Spele moes onttrek as gevolg van ʼn besering. Horn spog hierdie seisoen met die vinnigste tyd vir die 100 m in die wêreld. Carina het by die onlangse Suid-Afrikaanse Kampioenskappe 11.03 en 11.08 sekondes gehardloop. Die Statebondspele begin aanstaande Woensdag aan die Australiese Goue Kus.

Tennis

  • By die Miami Ope het die veertiende gekeurde John Isner na die halfeind deurgedring. In vandag se twee kwarteindkragmetings speel (4) A. Zverev teen (29) B. Ćorić, en (6) K. Anderson kom te staan teen (16) P. Carreño Busta.

In die Vroue-afdeling het Victoria Azarenka en Jelena Ostapenko na die halfeind deurgedring terwyl Venus William deur Danielle Collins uitgeskakel is.

Sokker

  • Die eerste kwarteindwedstryde van die Nedbank-uitdaagreeks word Saterdag gespeel.

 

Ubuntu Cape TownvFree State StarsAthlone Stadion15:30
Maritzburg UnitedvBloemfontein CelticHarry Gwala Stadion15:30
Kaizer ChiefsvBaroka FCNelson Mandela Bay Stadion20:15

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.