Vanes-Mari oor netbal, dans en dáái uitlating

Vanes-Mari Proudfoot is ’n ster op die netbalbaan. Foto: verskaf.

Dit lyk soms asof sommige mense 25 ure in hul dag het – hulle pak sommer gelyktydig ’n spul aktiwiteite aan en geniet ’n volgepakte en aksiebelaaide lewe. Vanes-Mari Proudfoot is só ’n persoon.

Dié 29-jarige is ’n Protea-netbalspeler, ’n mediapersoonlikheid, een van Dancing with the Stars SA se sterre en kortom net ’n pleinweg talentvolle meisie. O ja, dan is sy ook met ’n Springbokhulpafrigter getroud!

“Jislaaik, Dancing with the Stars was nou vir jou ’n moeilike – maar lekker! – storie. Mens kan nog hoërgraad-wiskunde slaag, maar dié program was soos om die Comrades agteruit te hardloop: mens sal dit nie kan doen voor jy nie eers probeer nie. En ja, ek kan steeds nie eintlik dans nie!” sê sy met haar kenmerkende glimlag as sy oor haar deelname aan dié gewilde dansprogram gesels.

Een van Dancing with the Stars SA se gewildste deelnemers. Foto: verskaf.

Proudfoot het bekendheid vir haar vaardighede op die netbalbaan verwerf en het amper 40 wedstryde vir die Proteas gespeel. Natuurlik was talle goeie herinneringe.

“Die Wêreldbeker in 2011 en die eerste keer wat ek teen legendes soos Irene van Dyk (Nieu-Seeland) en Catherine Cox (Australië) gespeel het, sal ek nooit vergeet nie. Nog ’n hoogtepunt was toe ons vir Jamaika vir die eerste keer in 49 jaar getroef het – boonop in hul agterplaas ook! Ek het só lekker feesgevier na daardie wen, dat my bene skoon in spasmas getrek het!”

Sy vertel dat sy tevrede is met wat sy reeds op die netbalbaan bereik het – sy het haar land verteenwoordig en oorsee in ’n top-liga gespeel.

“Terselfdertyd probeer ek om almal met liefde en die nodige respek te hanteer. Ek geniet dit nog net so baie om te speel, maar ek plaas nie meer so baie druk op myself om op die hoogste vlak te presteer nie. Ek wil graag speel so lank as wat my lyf dit toelaat.”

En sy pak die lewe voluit aan. Foto: Chanel Diesel (CDPhotography).

Sy is onlangs met die voormalige Skotse rugbyspeler en Springbokhulpafrigter, Matthew Proudfoot, getroud en sê dat die getroude lewe haar soos ’n handskoen pas.

“Dit is ’n fees om saam met my man te wees en hy is die beste spanmaat waarvoor ek kon gevra het. Ek het geweet toe ons vier jaar gelede begin uitgaan het dat ek hom vir altyd aan my sy wil hê.”

Het sy enige raad vir paartjies wat op trou staan?

“Ja! Moenie trou nie!” lag sy. “Ag, ek terg sommer. Wees eers oukei met mekaar se geite en goetertjies voordat jy vir die res van jou lewe daarmee saam moet leef. Gaan bring ook tyd saam met die skoonfamilie deur sodat jy kan leer hoe om jou man se gunstelingkos voor te berei. Vra maar vir jou ma – dit ís belangrik.”

Vanes-Mari en Matthew is een van Suid-Afrika se glanspaartjies en is gereeld in die mediakollig.

“Ons maak soms grappies terwyl ons skottelgoed was oor wie van ons twee die meeste herken was op ’n dag, maar dit is hoe ver dit strek. Ons probeer om ons huwelik baie privaat te hou.”

Sy is deesdae ’n gereelde gesig op televisie en vertel dat sy hoegenaamd nie skaam voor die kameras is nie.

“Ek is maar weird soos dit. Ek is amper meer op my senuwees voor ’n klomp mense as voor ’n kamera. Voor ’n kamera is ek baie gemaklik. Soms só gemaklik dat ek jou sommer van my badkamergesondheid op nasionale TV vertel!”

Een ding is egter gewis: Vanes-Mari Proudfoot se lewenslus is aansteeklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.