Varsitybeker sorg vir kookwater-vermaak

Die UWK het gisteraand ’n geskiedkundige sege behaal. Foto: Facebook.

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het sy eerste sege van die 2019 Varsitybeker-reeks gesmaak toe hy Maandagaand die Universiteit van Johannesburg met 29 – 17 geklop het.

Die Kapenaars het vier drieë gedruk teenoor die twee van die Johannesburgers.

Dan was Tukkies se verdediging rotsvas terwyl hulle op die aanval drie drieë gedruk het om die Pukke met 28 – 0 ore aan te sit.

Die groot nuus is egter dat die Sentrale Universiteit vir Tegnologie vir die Shimlas in die Bloemfonteinse derby met drie punte geklop het. Albei spanne het vyf drieë gedruk, maar dit was Heinrich Bitzi se bykomende strafskop wat vir die punteverskil gesorg het.

In nóg ’n opwindende kragmeting het die Universiteit van die Witwatersrand vir Ikeys gewys waar Dawid die wortels gegrawe het toe Wits die Kapenaars met ’n enkele punt geklop het.

Daar is nog twee rondes voor die afskop van die halfeindstryde. Tukkies en Maties is eerste en tweede op die punteleer, maar die Stellenbossers het ’n wedstryd in die bank.

Puntestand:

  1. Tukkies 28 punte ná sewe wedstryde
  2. Maties 28 punte ná ses wedstryde
  3. Pukke 19 punte ná ses wedstryde
  4. Shimlas 17 punte ná ses wedstryde
  5. SUT 14 punte ná ses wedstryde
  6. Ikeys 13 punte ná ses wedstryde
  7. Wits 11 punte ná ses wedstryde
  8. UJ sewe punte ná sewe wedstryde
  9. UWK vyf punte ná ses wedstryde

 

Uitslae:

  • SUT 38 – Shimlas 35

SUT: Drieë: Hardus Nel, Cohan Jasper, Dimtrio Tieties, Rayno Nel en Edward Davids. Doelskoppe: Heinrich Bitzi (4). Strafskop: Bitzi.

Shimlas: Drieë: Jan Cloete, Hanno Snyman, Tiaan Schutte (2) en Justin Taylor. Doelskoppe: Lubabalo Dobela (3).

  • Tukkies 28 – Pukke 0

Tukkies: Drieë: Johan Grobbelaar, Damian Bonaparte, Brian Leitch. Doelskop: Tinus de Beer. Strafskoppe: De Beer (3).

  • UWK 29 – UJ 17

UWK: Drieë: Aidynn Cupido, Lyle Hendricks, Justin Theys, Labib Kannemeyer. Doelskoppe: Cupido (3). Strafskop: Cupido.

UJ: Drieë: Driaan Bester, Tatendaishe Mujawo. Doelskop: Mashudu Raphunga. Strafskop: Raphunga.

  • Wits 30 – Ikeys 29

Wits: Drieë: AJ van Blerk (2), Sicelo Champion. Doelskop: Chris Humphries (3). Strafskop: Humphries.

Ikeys: Drieë: Gary Porter, Joshua Moon, Joshua van Vuuren. Doelskop: Darian Hock (2). Strafskop: Hock.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.