Varsitybeker: Twéé kapteins van één dorp en met één droom

Marius Verwey. Foto: GB Jordaan.

Twéé kapteins en twéé universiteite, maar van één dorp en met één droom voor oë.

Toegegee, dit mag dalk klink soos iets wat die aanbieder van ’n Survivor-reeks sal kwytraak, of ’n motiveringspreker tydens ’n Maandagoggend-skoolsaalopening, maar dit is presies hoe die komende Varsitybeker-veldtogte van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Johannesburg opgesom kan word.

Want in Marius “Tulu” Verwey en Driaan Bester het Tukkies en UJ twee uiteenlopende kapteins, maar hul passie vir hul universiteitspan is dieselfde. En boonop was hulle op dieselfde dorp op skool.

Bester was deel van HTS Middelburg se Rooi Bulle, terwyl Verwey vir twee agtereenvolgende jare die kaptein van Hoërskool Middelburg was.

Hoewel hulle omtrent ewe oud is – Bester word later vanjaar 23 en Verwey is pas 22 – het hulle nie werklik op skool teen mekaar gespeel nie.

“Ons het vinnig teen mekaar geoefen in die Cravenweek se Elite Groep, maar omdat hy ’n jaar jonger as ek is én omdat ek die FNB Classic Clashes in my matriekjaar misgeloop het, kon ons nooit werklik teen mekaar kragte meet nie.”

Maar dit gaan alles in 2019 verander, want die kanse is goed dat Bester en Verwey baie van mekaar te siene gaan kry. Die Johannesburgers en Pretorianers pak mekaar vir die eerste keer op 11 Februarie wanneer hulle in aksie op die UJ Stadion is.

Driaan Bester. Foto: Facebook.

Mens wil nou ook nie té diep in die kristalbal kyk nie, maar ’n herontmoeting in die uitspeelrondes is ook te wagte, want albei spanne weet hoe om die belangrike wedstryde te wen: Tukkies was die kampioenspan in 2017, terwyl UJ in verlede jaar se eindstryd gespeel het.

Bester is egter van mening dat enige span op sy dag ’n reusebedreiging kan inhou; nie net Tukkies, UJ of Maties nie.

“Te danke aan my vorige ondervindings in die Varsitybeker het ek gou agterkom enige span kan ’n reuse-uitdaging wees. Dit is daarom belangrik om dinge van Maandag tot Maandag te vat en om meer op jou eie span as jou teenstanders te konsentreer.”

Aangesien albei spelers van die Hoëveld afkomstig is, kan die Engelse televisie-onderhoude nogal ’n tameletjie bied. Dankie tog vir meneer Ferreira by Middies en mevrou Swanepoel by die Rooies, wat hulle darem die verskil tussen singular en plural geleer het!

Deur die jare het die Varsitybeker al verskeie sterre opgelewer – Springbokke soos Aphiwe Dyantyi en Malcolm Marx.

“Sterspelers is egter hoegenaamd nie ons hooffokus nie – om die beker te wen is wel. Maar as ons aanhou goed vertoon, sal daar ongetwyfeld ’n paar spelers hul hande opsteek vir hoër louere.”

O ja – daar is nog ’n ooreenkoms: albei het op skool slot gespeel, maar Bester (wat 1,92 m in sy sokkies staan) het die skuif na flank gemaak.

Die kapteins vir die komende Varsitybeker. Foto: Varsitybeker Facebookblad.

So, verwag dus ’n paar Middelburgse kwinkslae wanneer UJ en Tukkies se voorspelers in die skrum sak.

  • UJ se Varsitybekerreeks skop op 4 Februarie om 16:45 teen die Pukke af, terwyl Tukkies later die aand teen die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT) te staan kom.
  • Tulu se neef, Jacques Verwey, het ook vir die Pretorianers Varsitybeker gespeel.
  • Die kapteins vir 2019:

Kuyenzeka Nama Xaba (Ikeys), Adrian Paarwater (UWK), Johan Momsen (Maties), Rayno Nel (CUT), Henk Pretorius (Kovsies), Driaan Bester (UJ), Constant Beckerling (Wits), Louis van der Westhuizen (Pukke).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jorrie Jordaan ·

Lyk of TUKS sonder kaptein speel in 2019!
Regstelling Marius Verwey seker kaptein

Deon ·

Indien hulle sukkel met TV onderhoude in Engels, hoe kan hulle in Engels studeer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.