Vegter Anderson wou eenvoudig nie bes gee nie

Kevin Anderson – deur na die halfeind (Twitter @Kevin Anderson)

Veggees was die wagwoord en Kevin Anderson se grootste bondgenoot in Dinsdagaand se taai kwarteindstryd teen Sam Querrey in die Amerikaanse Ope op Flushing Meadows.

Anderson het in vier stelle gewen, waarvan drie met ʼn valbylpot beslis is: 7-6 (7/5), 6-7 (9/11), 6-3, 7-6 (9/7)

Nadat hy in die eerste stel van 2-5 in die valbylpot teruggeveg het om die pot 7-5 en die stel te beklink, het Anderson vergeefs vir meer as ʼn uur lank geswoeg om die tweede stel te wen en ʼn voorsprong van 2-0 in die kwarteindwedstryd teen Querrey te verkry.

Anderson was 1-6 in dié valbylpot agter maar het vir elke punt baklei. Querrey het hierdie tweede valbylpot, eers met sy agste stelpunt, 11-9 gewen om die telling op een stel elk te staan te bring.

In die derde stel het Anderson in die sesde pot ʼn fout aan Querrey se kant afgedwing, deurgebreek en die stel 6-3 gewen.

En toe was dit weer sulke tyd, met die vierde stel wat deur ʼn lang valbylpot besleg is. Anderson het ʼn stelpunt afgeweer wat die wedstryd na die vyfde stel sou verleng, en die valbylpot met 9-7 en daarmee ook die stel en die wedstryd ná drie uur 26 minute beklink.

Daarmee het hy die eerste Suid-Afrikaner sedert Wayne Ferreira in 2003 in die Australiese Ope geword wat in ʼn Grand Slam na die halfeind deurgedring het.

Hy is ook die eerste Suid-Afrikaner sedert Cliff Drysdale in 1965, voor die beroepsera, wat so ver in die Amerikaanse Ope vorder. Drysdale het toe die eindstryd verloor in die toernooi wat nog as die Amerikaanse Nasionale Kampioenskappe bekend was.

♦  Anderson speel in die halfeind teen Pablo Carreno Busta (17) van Spanje wat Dinsdag met 6-4, 6-4, 6-2  teen Diego Schwartzman (29) gewen het.

♦  In die vroue se kwarteindwedstryde wat Dinsdag gespeel is, het Venus Williams (9) vir Petra Kvitova (13) met 6-3, 3-6, 7-6 (7-2) geklop en die ongekeurde Sloane Stevens het met 6-3, 3,6, 7-6 (7-4) teen Anastasija Sevastova (16) gewen.

♦  Oorblywende kwarteindwedstryde –

Mans

Rafael Nadal (1) vs Andrey Rublev; Roger Federer (3) vs Juan Martin del Potro (24)

Vroue

Karolina Pliskova (1) vs Coco Vandeweghe (20); Madison Keys (15) vs Kaia Kanepi.

Vir volledige tellings, afslaantye en loting, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Net toe almal gedink het sy loopbaan is verby kom hy met sy beste na vore. Sa het lanklaas iemand in ‘n kwarteindstryd in enige grand slam gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.