Video: Blitse kry hul wenwoema terug

Die Blitsbokke spog met hul trofee ná hulle vir Frankryk in die eindstryd van die Vancouver-toernooi gewen het. Foto: Facebook.

Die Blitsbokke het die naweek in Kanada hul kritici se monde behoorlik gesnoer toe hulle die HSBC-sewes se Vancouver-toernooi gewen het.

Neil Powell se jong groep was witwarm in die uitspeelrondes en hulle het Argentinië (beker-kwarteindstryd), Fidji (beker-halfeindstryd) en Frankryk (beker-eindstryd) gemaklik gewen.

Die Blitsbokke was inderdaad futloos in vanjaar se vorige toernooie, maar in Kanada het hulle hul flair op die aanval en hul vasberadenheid op verdediging teruggekry.

Veral jong spelers soos JC Pretorius en Selvyn Davids verdien lof vir die wyse waarop hulle gespeel het. Albei het vyf drieë in die toernooi gedruk en hulle is in die toernooi se droomspan ingesluit. Hulle beskik oor die natuurlike talent om nog groot name in die seweswêreld te word.

O ja, Davids is ook as die speler van die eindstryd aangewys.

Wat veral verblydend is, is dat die Blitsbokke met die VSA en Fidji klaargespeel het – spanne wat onderskeidelik eerste en derde op die punteleer is.

Met dié sege skuif die Suid-Afrikaners weer na die vierde plek op die punteleer en amper binne trefafstand van Fidji in die derde plek.

Die volgende toernooi is in Hongkong van 5 tot 7 April.

Punteleer:

  1. VSA 113
  2. Nieu-Seeland 106
  3. Fidji 101
  4. Suid-Afrika 89

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanL ·

Skitterende stukkie “dink buite die boks” spel. Welgedaan Selvyn.

Hoop die Blitsbokke doen nou beter vorentoe, want daar is eintlik geen druk op hulle om die reeks te wen nie – dit is vir alle praktiese doeleindes nie haalbaar nie.

PDP ·

Daardie spel met skoppie terug deur Selvyn is seker beste “skill” wat ek nog op enige rugbyveld gesien het. Welgedaan Blitze, hoop politici stem ook saam.

nieBAFUnie ·

Baie geluk en trots , afrigter en manne wat nie gaan lê nie.
Verblydend is dat alle “kwotas” nagekom word /is en tog geen boe of ba oor die span se prestasies vanaf die hoogedele Ministerie(lees)Mystery van sport gehoor word nie.Sou dink dat so prestasie darem ‘n woord van gelukwensing sou kry.

Wesley ·

Powell doen wonders in sy posisie en ek glo SA afrigters kan by hom n ding of twee leer van jongelinge ondersteun en van spelers kies wat dalk “lig in die broek” lyk op n afstand, maar fantastiese “skill” het. Selvyn is gemaak vir sewes, baie het gese hy sal nie kan mas opkom teen Fidji se kraglopies ens. Daai man is magic.

Maria ·

Woooow sokker help darem die spel vir rugby cooool! Almal leer sokker speel om so goed so hy speel. Baie geluk bokke!

Henk ·

Wat n aangename verrassing!! Hoekom moet ons ondersteuners eers kwaad gemaak word? Welgedaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.