Vier jaar ná rugbyspeler sy nek breek het hy steeds hope moed

Heinrich “Ollie” Terblanche saam met sy vrou, Chanel. Foto: Verskaf.

“My eintlike storie begin hier. Ek was in Pretoria se Muelmed-hospitaal, besig met my rehabilitasiewerk. Ek het langs my vrou gestaan, na die spieël gekyk en gewéét ek sal weer eendag kan loop. Dit is híér waar ek vir die Here gesê het ek wil veg en nie moed verloor nie.”

Aan die woord is die 28-jarige Heinrich “Ollie” Terblanche.

Voor dié Damaskuspad-oomblik was hy ’n kranige rugbyspeler wat onder meer vyf seisoene vir die Leeus, die Boland Kavaliers en selfs ’n seisoen of twee in Nieu-Seeland gespeel het.

Ongeveer vyf jaar gelede was hy op die kruin van die rugbygolf én vinnig terug in Suid-Afrika om sy meisie, Chanel, te vra om te trou. Terwyl hy reëlings tref om die groot vraag te vra, het hy sommer ’n paar wedstryde vir die SWD Arende gespeel. Sy agent het ook gereël dat die Stormers se Superrugbykeurders na sy skrumwerk kom kyk.

Maar op 24 Januarie 2014 het sy lewe drasties verander.

Geloof, ondersteuning en rehabilitasiewerk is die sleutel tot Terblanche se suksesverhaal. Foto: Verskaf.

“Ons het teen Evergreens in ’n oefenwedstryd gespeel en die skrum het ineengestort. Ek het ’n knakgeluid gehoor en besef iets is baie verkeerd – ek het my nek gebreek. In ’n oogwink het ek alle beheer in my voete, hande, blaas en arms verloor.

“In dié stadium sou enige professionele sportman waarskynlik begin twyfel het. Ek het myself as ’n rugbyspeler gesien en het altyd geglo ek kan ’n Springbok word. Maar ek het destyds gedink hoe gaan ek vir my vrou sorg, hoe gaan ek eerstens met haar trou? Jy sien soveel vroue hul mans los ná só ’n ongeluk want jy verloor nie net jou bene nie, maar soveel ander funksies ook.”

Besig met rehabilitasiewerk. Foto: Verskaf.

Opgee was egter min en ná daardie dag in Muelmed het hy sy arbeidsterapeut en sielkundige die trekpas gegee (hulle was van mening dat hy nie eendag sou kon trou nie) en letterlik dag en nag begin oefen.

“Omdat Chanel en my familie daar was vir my, het ek aanhou baklei. Dan kan ek ook nie beskryf hoe dankbaar ek jeens die Here is en hoe naby ek nou aan Hom is nie. Jy kom op ’n punt waar dinge onmoontlik lyk, maar daar kom skielik ’n kalmte oor jou en jy wéét jy gaan die wedloop voltooi.”

Omdat hy sy C6- en C7-werwels gebreek het, het medici weinig hoop vir hom gehad. Vier maande ná die ongeluk het hy sy vingers effens begin roer, nóg ’n paar maande later kon hy sy arms beweeg en ’n jaar later het hy sy eerste tree met krukke gegee.

Op hul troudag het hy met twee krukke langs Chanel voor die kansel gestaan.

“Tydens ’n onlangse stamselinspuiting het van my maagspiere begin beweeg en die wonderlike gemeenskap van George het geld ingesamel vir nog stamselbehandelings in die toekoms.”

Hy kan nie genoeg praat oor die ondersteuning van sy vrou, vriende en familie nie. “Chanel is letterlik my arms en bene. Ons oefen saam en wanneer ek die groot gewigte in die gimnasium rondgooi, is sy daar saam met my. Sy is my rots.”

Heinrich en Chanel op hul troudag. Hy het langs haar voor die kansel gestaan. Foto: Verskaf

En moenie dink hy hou op met droom nie. “Ek sien daarna uit om eendag kinders te hê, terwyl daar nog soveel doelwitte op die horison vir ons as getroudes wag. Dan is ek en Elvis Blue ook saam in ’n koffiebesigheid. Ek is mal oor koffie en ons versprei lekker koffiebone reg oor Suid-Afrika!”

Hy is ook besig om hom as fiksheidsafrigter te kwalifiseer en wil graag eendag as ’n kondisioneringspesialis na rugby terugkeer.

“Ek wil veral met kinders werk en vir hulle wys waartoe hulle alles in staat is. Wanneer jy jou liggaamfunksies verloor, besef jy wat werklik belangrik is; en dit is jou gesondheid.
“Moet net nooit opgee nie, al lyk dinge hóé moeilik. Baie kere verwag ons ’n groot gebeurtenis wat baie opslae maak, maar die Here kan ook in ’n stil stem met jou praat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mrs.B ·

WOW, so positief. En ek kla oor seer knie elke nou en dan. Dit laat my besef hoe gou ek kan kla oor niks. Sterkte jong man, jy is ‘n insperasie!!

Hallelujah ·

Hallelujah ons God is sooooooooooooooooooooooooooooooooo grooot en so in beheer van als. Wees ‘n inspirasie jy kan maar – jy en jou vrou is helemal inspirasie – inspireer ander mense en wys hulle wat gedoen wil word kan gedoen word.
Amen in Jesus se naam.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.