Waar’s my piesangs, vra Coco in Australiese Ope

Drie gekeurde vroue van die VSA wat in die eerste ronde van die Australiese Ope uitgeskakel is:
Sloane Stephens, Venus Williams en Cooo Vandeweghe. (Foto: Twitter @ESPN)

Dit gebeur nie aldag dat ʼn gebrek aan piesangs een van die wêreld se voorste tennisspelers pootjie nie.

Die Amerikaner  Coco Vandeweghe, wat 10de in die vroue-enkelspel gekeur is, is Maandag in die eerste ronde van die Australiese Ope in Melbourne met 7-6 (7-4), 6-2 deur die ongekeurde Timea Babos van Hongarye uitgeskakel.

Vandeweghe is twee keer deur die skeidsregter, Fergus Murphy, vermaan dat sy tyd mors, waarop die Amerikaner vies geantwoord het: “Ek wag vir my piesangs.”

Vandeweghe, wat verlede jaar die halfeindronde gehaal het, was hoogs ontsteld omdat die piesangs ná die eerste stel nog nie op die baan was nie en sy het eers geweier om verder te speel.

“Hoekom is die piesangs nie op die baan nie? Ek het sekere behoeftes en dis nie my skuld as die baan nie behoorlik voorberei is nie!”

Vandeweghe is hierna ook met ʼn punt gestraf nadat sy Babos beswadder het.

“Sy doen dit altyd (verloor haar humeur). In elke wedstryd word ʼn paar rakette gebreek, en dié keer was dit tydmors,” het Babos gesê.

♦  Vandeweghe is een van 12 Amerikaners wat reeds op die eerste dag uitgeskakel is. Die ander Yanks wat huis toe gaan, is Venus Williams, Sloane Stephens, John Isner, Jack Sock, Kevin King, Taylor Townsend, Alison Riske, Catherine Bellis, Jennifer Brady, Irina Falcone en Sofia Kenin.

Daar was darem goeie oorwinnings vir van die topgekeurde vrouespelers soos Caroline Wozniacki, Elina Svitolina, Jelena Ostapenko en Julia Gorges.

♦  In die mansenkelspel het die eerste gekeurde Rafael Nadal van Spanje vir Victor Estrella Burgos van die Dominikaanse Republiek met 6-1, 6-1, 6-1 van die baan gevee. Gekeurde manspelers wat vasgeval het, sluit in die Suid-Afrikaanse hoop, Kevin Anderson (11de) , wat vroegoggend deur die ongekeurde Brit Kyle Edmund in vyf stelle geklop is.

Grigor Dimitrov (3de gekeur) en Marin Cilic (6de) het maklik deurgedring; so ook Jo-Wilfried Tsonga en Nick Kyrgios.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Ook maar goed Coco het nie teen Venus gespeel nie, anders was die EFF sweerlik in Melbourne om te protesteer teen gewaande rassisme wat primate en hul stapelvoedsel by alles en nog wat betrek…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.