Wallabies eis ook Pumas se kop

Die Wallabies het met 27-8 gewen nadat hulle rustyd met 17-3 voor was. (Foto: Twitter / Argentina Dorada)

Daar is min dinge belangriker in rugby as momentum.

Nadat die Wallabies drie keer vanjaar deur die All Blacks ore aangesit is, was hul selfvertroue daarmee heen.

Maar nadat hulle die Springbokke twee keer in ʼn ry geklop het, het hulle hul momentum teruggekry en het dit verder oorgespoel na Saterdag se Rugbykampioenstoets teen die Argentynse Pumas in Townsville.

Die Wallabies het met 27-8 gewen nadat hulle rustyd met 17-3 voor was.

Dit was die slegs die eerste keer in vier jaar dat die Wallabies vier wedstryde in ʼn ry kon wen.

Ewe skielik is hulle nou tweede, en voor die Springbokke, op die Rugbykampioenskapspuntelys en het hulle reeds verlede week na derde op Wêreldrugby se ranglys opgeskuif.

Waar die Wallabies-agterspelers teen die All Blacks maar bra planloos was, het hulle nou vlam gevat, aangespoor deur die binnesenter Samu Kerevi, wat net een pad met die bal ken, die woelige vleuels Marika Koroibete en Andrew Kellaway asook die losskakel Quade Cooper.

Dit het die deur oopgemaak vir voorspelers soos Taniela Tupou, Michael Hooper (oudergewoonte) en Rob Valetini om die kitaar te slaan.

Die Pumas het ná rustyd met nuwe vuur gespeel en baie momentum gehad. Maar ʼn gebrek aan dissipline op ʼn kritieke tyd het weer gelol toe die flank Marcos Kremer vir Reece Hodge gepootjie het en met ʼn geelkaart gestraf is.

Weg was die momentum, weg was hul kanse. 

Punte: Australië 27 (17): Drieë: Reece Hodge, Samu Kerevi, Andrew Kellaway. Doelskoppe: Quade Cooper (2), James O’Conor. Strafdoel: Cooper, O’Conor.

Argentinië 8 (3): Drie: Julian Montoya. Strafdoel: Emiliano Bofelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Tubac

Weereens, speel vir die span en nie vir die pawiljoen nie.