Wayde van Niekerk: Nederige superster kry sy krag by ʼn ‘Hoër hand’

Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Toe Odessa Swarts op 15 Julie 1992 na haar babatjie, wat op 28 weke gebore is, in die Tygerberg-staatshospitaal in Kaapstad gekyk het, het sy die ergste verwag. Sy was self maar 18 jaar oud. Die dokters het ʼn bloedoortapping gedoen en vir haar gesê dat sy niks meer as 24 uur saam met haar Wayde sal hê nie.

Vandag is Odessa, wat self ʼn uitblinker in atletiek was, die trotsste ma in die wêreld, en haar 24-jarige seun se naam is op almal se lippe.

Van Niekerk is steeds besig om als te verwerk nadat hy Maandag vroegoggend (SA tyd) ʼn Olimpiese goue medalje vir Suid-Afrika losgenael het en Michael Johnson se wêreldrekord van 1999 verbeter het.

“Ek het eintlik nie ʼn spesifieke strategie gehad nie, ek het net dat God oorneem,” het Van Niekerk gesê terwyl hy terugdink aan die 43.03 sekondes (0.15 sekondes vinniger as Johnson se poging) waartydens hy geskiedenis gemaak het.

Kenners het gesê dat die rekord nét deur Usain Bolt gebreek sou kon word. Van Niekerk het na Rio gegaan met Suid-Afrika se hoop vir ʼn goue medalje op sy skouers.

Ná die semifinaal is hy in die agtste baan geplaas, ver weg van Kirani James en LaShawn Merritt. Almal het begin bespiegel dat hy kon wen, mits alles daardie dag in sy guns sou tel.

Dinge was egter nie aldag maklik vir Van Niekerk in Rio nie. “Tydens die uitdunrondes en die semifinaal het ek ʼn rugprobleem gehad wat mediese aandag geverg het. Toe ek by die wegspringblokke sak tydens die finaal was ek so emosioneel,” het Van Niekerk gesê.

“Ek glo dat die Here se wil geskied het. Ek het geen pyn gevoel nie. Die laaste 100 m was ʼn wonderwerk. As ek nou daarna kyk, dink ek ‘wow, is dit ek daardie?’. Ek het nie so sterk gevoel as wat ek gelyk het nie en ek is nogal beïndruk met daardie laaste 100 m. Ek gee vir tannie Ans (Botha – sy afrigter) alle krediet vir die feit dat sy my vaardighede in daardie laaste 100 m verskerp het, en in my en my vermoëns geglo het.”

“Ek is nog net vir drie of vier jaar saam met hierdie afrigter, maar sy is so ervare. Ons prestasies as ʼn span saam spreek vanself. Ek verwag nog prestasies saam met haar,” het Van Niekerk gesê.

Wat dink Wayde van daardie oomblik dat Bolt die onderhoudvoerder in die rede geval het (nadat hy sy derde 100 m Olimpiese goue medalje gewen het) om hom te kom omhels? “Ons het ʼn goeie verhouding gebou die afgelope paar maande. Bolt se prestasies spreek boekdele; hy het ʼn groot rol gespeel in my motivering en om my in myself te laat glo.”

Dis een van die wonderlike dinge oor Van Niekerk. Daar word gereken dat hy die voorbladgesig vir Olimpiese naellope gaan word en die manier waarop hy gewen het, maak sy kommersiële waarde net nog hoër.

Sy handelsmerk gaan op die voorgrond wees oor die volgende paar jaar; daar is niemand wat by hom kan bly by die 400 m nie. Hy is ʼn naelloop-goudmyn. Hy het reeds geskiedenis gemaak deur die 100 m in onder 10 sekondes en die 200 m in onder 20 sekondes te hardloop, en hou nou die 400 m-wêreldrekord.

“Ek sien uit om teen Bolt te hardloop in die 200 m en eendag te bereik wat hy bereik het.”

Van Niekerk se nederigheid ken geen perke nie. Hy leer nou om “nee” te sê vir onredelike versoeke, maar dit was nie maklik nie. “Ek is ʼn kalm mens, die ander lede van my familie doen al die praatwerk.”

Daar is nog baie stories om te vertel, maar die verloop van dié verhaal is duidelik. Dié atleet is bestem vir materiële rykdom waarvan ander nie eens kan droom nie. Van Niekerk se rykdom is egter afkomstig van dié naaste aan hom en materiële rykdom kom vir hom tweede, maak nie saak hoeveel nulle aan die einde van geldsyfers bygevoeg word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Welgedaan aan Wayde en tannie Ans! Ek hoop Wayde gebruik sy goud wys, en dat hy ons jeug sal inspireer

E.K. ·

Nederig en beslis van geboorte af bedoel is vir GROOT dinge. Hy verdien alle wonderlike dinge wat na hom toe kom.

Andrea ·

Wat n pragtige, talentvolle jong man! Mooi so, Wayde, ons is trots op jou en gun jou die groot prestasie.

Luister ·

Hoop nie hulle besluit daai bloedoortapping net ná sy geboorte is teen die reëls nie.
Grap net, veels geluk Wayde!

Ongelooflik bly ·

Ek is ongelooflik bly vir jul 2tjies, baie baie ure se werk, deurdruk, geloof is beloon en albei so beskeie, Wayde&Tannie Ans. Ek was dan ook bevoorreg om jou Ma in aksie te sien in werk& n friendly prettige aflos Maart in Bloem en vir ouma& boetie by Rasa prysuitdeling en so is hul almal nederig en ongelooflik trots dankbaar, jy is so goed soos jou ondersteuning!

broos ·

well done!! ek bars van trots hier waar ek sit en ek ken jou nie eers persoonlik nie :-)
mag jy altyd jou oë op die Here hou en so ‘n goeie voorbeeld vir ons jong mense wees!

Jan Jooste ·

“Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.” (Matt 10:32). Welgedaan – in baie opsige, Wayde en beste wense vorentoe!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.