Wedloop vir ‘vasbyter’-drawwers gehou

Die Bo-Karoo Vasbytwedloop spring binnekort weg! Foto: verskaf.

Trek solank jou dagboek nader en stof jou draftekkies af, want op 28 April tot 1 Mei is daar ’n velddraf-wedloop (“trail run”) soos geen ander nie.

Die Bo-Karoo Vasbyt is ’n multiskof‑wedloop in Orania en deelnemers kan tussen twee afstande kies om oor vier dae kaf te draf.

Die Vasbytroete (vir die fikses) sal drawwers uitdaag om 100 km oor die vier lekker skofte te voltooi, terwyl die Liglooproete oor 55 km strek.

’n Nuutjie by vanjaar se byeenkoms is ’n fietsryroete. Volgens dr. Danie Brink, organiseerder, is die roetes van dié tweewielavontuur spesiaal uitgemerk om die res van die gesin te akkommodeer – baie kinders ry saam fiets terwyl pa se tekkies die praatwerk doen.

So gepraat van vermaak: die Bo-Karoo Vasbyt het iets vir die hele gesin – van kanoritte en vierwielmotorfietsaksie, tot begeleide Orania-dorpstoere.

Maar terug na die wedlope. Die roetes is duidelik uitgemerk om enige verwarring uit te skakel, en jy hoef jou nie oor jou hoogtevrees te bekommer nie.  Die Vasbyt se roete kronkel al langs die Oranjerivier af; dus is daar nie baie hoogteverskille nie.

“Ons wil ’n baie lekker informele wedloop aanbied. Daar word elke aand ’n braai op die Oranjerivier se oewer gehou waar die deelnemers en hul gesinne kan saamkuier,” sê Brink.

Maak dus ’n dagboeknota, skryf in en kom geniet ’n pragwedloop in die Noord-Kaap!

Meer inligting:

  • Vasbyt (100 km oor vier dae):

28 April: 32 km

29 April: 16 km

30 April: 28 km

1 Mei: 24 km

  • Ligloop (55 km oor vier dae):

28 April: 16 km

29 April: 16 km

30 April: 15 km

1 Mei: 9 km

  • Inskrywingsgeld beloop R350 en die sluitingsdatum vir inskrywings is op 15 Maart. Stuur jou inskrywing na [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boela ·

Sou bitter graag wou, maar neem nie aan Sondagsport deel nie. Dis mos ‘n rusdag, ingestel, geseën en geheilig deur die Allerhoogste self. As dit volgende jaar nie op ‘n Sondag val nie, is ek verseker daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.