Selfs donderweer en weerligflitse kon van die land se beste skoolrugbyspelers Dinsdagmiddag nie weerhou om ’n hele paar skouspelagtige drieë op Loftus Versfeld te druk nie.
Twee-en-dertig van Suid-Afrika se voorste eersterugbyspanne was gister in aksie by Afgri se Prestige Rugbydag in Pretoria.
Omdat geen stelskoppe op dié dag toegelaat word nie, is dit jaarliks ’n drieëfees waar skoolspelers hul natuurlike aanvallende flair kan uitstal.
Met die swaar weer wat gistermiddag op die hoofstad toegesak het, het die goedbeplande wedstrydprogram ook in die slag gebly en die laaste wedstryd is eers naby middernag voltooi.
Maar selfs die weerlig kon nie kers vashou by van dié skoolblitse nie en veral Hoërskool Monument van Krugersdorp het amok gemaak. Hulle het 13 onbeantwoorde drieë gedruk om vir Goudveld 65 – 0 af te slag. Indien doelskoppe getel het, kon die telling 91 – 0 gewees het.
In ’n spannende wedstryd het Garsfontein en Boland Landbou gelykop met drie drieë elk gespeel.
Volgens skoolrugbyranglyste, was die Bere van Garsfontein die sewende beste rugbyskool in die land verlede jaar, terwyl die Bolanders die 16de plek beklee het.
Dan het Hoërskool Waterkloof vir Ben Vorster van Tzaneen 30 – 15 geklop. Dit moes ’n interessante wedstryd vir Klofies se Chris de Nysschen gewees het – hy was verlede jaar nog die Tzaneen-manne se hoof.
Pretoria se Affies Seuns het ook goed teen HTS Middelburg gespeel om hulle 30 – 5 te troef. Die Rooi Bulle van Middelburg het nie verlede jaar ’n baie goeie seisoen gehad nie en hulle het in ’n stadium na 47ste op die ranglys teruggesak. Maar onder Gert Lindeque en kie se leiding kan hulle in die toekoms weer onder die land se sterkstes tel.
Van die ander uitslae:
Witteberg 35 – 10 Heuwelkruin
Sentraal 30 – 5 Ben Viljoen
St Albans 20 – 15 Potch Gimnasium
Affies 30 – 5 HTS Middelburg
Garsfontein 15 – 15 Boland Landbou
HTS Drostdy 15 – 10 Montana
Waterkloof 30 – 15 Ben Vorster
Welkom Gimnasium 20 – 15 Kemptonpark
Monument 65 – 0 Goudveld
Noordheuwel 45 – 0 Zayo Academy
Lyk vir my die beste skool het nie deel geneem nie. Grey College van Bloemfontein.
Hulle kon seker nie in die bus of trein pas saam met hul egos nie ? LOL :)
Weerlig kan gevaarlik wees tot selfs meer as 15 km buite ‘n reëngebied.
Lekker Garsies!!!
Dit was alreeds ‘n groot voorreg vir die manne van Hoërskool Witteberg van Bethlehem om ook daar te kon wees!! Ons is baie trots op ons seuns!!!